NXUBA NUUS - Michausdal Senior Sekondêre Skool het op 2 September ’n groot lentedagverrassing gekry toe twee volgepakte bakkies by hul skool opdaag met ruim donasies vir die leerders.
Hofmeyr Hugs of Hope het reeds geruime tyd leerder-handboeke, lêers, en groen skooldrag vir die skool in te samel.
Talle van Hofmeyr se kinders is leerders by dié skool, en die omvang van die nood wat in die skool se koshuis en onder leerders heers het bekend geword.
’n Hofmeyrleerder wat in die koshuis bly, het ook vertel dat handboeke in groot aanvraag is.
Die reuse donasie is deur Eldoraigne Hoërskool, in samewerking met die Gereformeerde Kerk Centurion en Theuns Louw, wat wortels in Hofmeyr het en nog gereeld kom kuier, georkestreer, georganiseer en afgelewer.
Vragte donasies is by Hofmeyr Hugs of Hope afgelaai.
Die NG Kerk in Hofmeyr het goedgunstiglik ’n lokaal beskikbaar gestel waar die donasie bewaar kon word totdat dit na Cradock vervoer kon word.
Die vrag is vroegoggend op 2 September gelaai en met plastiek en veiligheidsnette bedek om die goedere teen wind en weer te beskerm.
Toe die aflewering met eerste pouse by die skool aankom, het groot vreugde oor die hele skoolgrond geheers.
Een leerder het bo van die balkon af gevra of daar vir hom ook ’n baadjie gaan wees, en daar was!
Die hele rugbyspan het ingespring en afgelaai, en wanneer ’n sak skeur het ander dit vinnig kom help optel en help aandra.
Tussen die boeke was ook Afrikaanse Bybels, wat vinnig eienaars gevind het.
Daar word ook vermoed dat die 2de September se eerste pouse effe langer was as ander dae se eerste pouse!
Michausdal Senior Sekondêre skool se leerders spog nou met spierwit hemde, bykans nuwe grys broeke, skoolbaadjies, skooltruie, sportdrag, sweetpakke en skool- en netbalrompies vir die dogters.
“Gits, hier is dan tot ’n sak met kouse,” het een leerder opgemerk toe hy in ’n geskeurde sak loer.
“Hierdie donasie maak reeds ’n reuse verskil in ons leerders se lewens, en elkeen is baie dankbaar vir hierdie skenking,” het die vise-hoof, Beatrice Adriaanse, gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’