KAROO NUUS - Die bestuur van Graaff-Reinet-gholfklub het verlede week met 'n nuwe inisiatief, om jongelinge aan te moedig om gholf te speel, begin.
Eddie Nel, klubpresident van die Graaff-Reinet-gholfklub, vertel dat leerders van plaaslike skole welkom is om Maandae en Woensdae om 16:00 by hulle aan te sluit vir oefensessies.
Nel sê dat die inisiatief geskep is om skoolgaande leerders aan te moedig om die sport te beoefen, en om te kyk of daar nie dalk 'n volgende Ernie Els onder een van hulle skuil nie.
Leerders wat nie gholfstokke het nie, hoef nie bekommerd te wees nie, daar is reeds 'n paar stelle wat wag om gebruik te word.
"Ons wil graag skoolgaande leerders help om 'n voorgee te bou sodat hulle aan kompetisies kan begin deelneem," sê Nel.
Inwoners wat leerders kan help met vervoer, kan die gholfklub by 040 555 0036 skakel.
Indien jy meer wil uitvind oor hierdie gratis opleiding, kan dieselfde nommer geskakel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’