MIDDELBURG NUUS - Graaff-Reinet Advertiser het onlangs die voorreg gehad om met die Suid-Afrikaanse ikoon, musikant, sanger en liedjieskrywer, Anton Goosen, oor sy nuwe enkelsnit, Bly by my, te gesels.
Die enkelsnit is 'n toonsetting van Antjie Krog se werk en word op 24 Mei uitgereik. Goosen is op 5 Maart 1946, in Middelburg gebore, en het ook as kind 'n wyle in Cradock gewoon.
Hy is bekend vir sy bydraes tot die Afrikaanse musiekbedryf. Sy baanbrekerswerk in die genre van Afrikaanse rock, deur tradisionele Afrikaanse musiek met kontemporêre rock-invloede te vermeng, was 'n groot stap in die Afrikaanse musiekbedryf van destyds.
Goosen se musiek bevat dikwels sosiaal- en polities-bewuste lirieke, wat die kulturele en politieke klimaat van Suid-Afrika weerspieël.
Sy werk het 'n beduidende rol gespeel in die ontwikkeling van Afri-kaanse musiek, wat gehelp het om dit te moderniseer en meer relevant vir jonger gehore te maak. Sommige van sy gewilde liedjies sluit in Kruidjie-Roer-My-Nie, Boy van die Suburbs, Blommetjie Gedenk Aan My en Pampoene oppie dak.
Benewens sy musiekloopbaan was Goosen betrokke by film en televisie, en het hy ook klankbane vir verskeie Suid-Afrikaanse produksies gekomponeer. Sy invloed op Suid-Afrikaanse musiek en kultuur het hom 'n ikoniese figuur in die land se artistieke erfenis gemaak.
Sy nuwe enkelsnit, Bly by my word op 24 Mei bekendgestel. Dit vorm deel van sy nuwe album, bestaande uit nege snitte. Hy vertel dat baie nasorg in die album belê is om te verseker dat hy goeie kwaliteit musiek aan sy aanhangers bied.
Goosen vertel dat die nuwe album, wat op 26 Junie uitgereik word, twee jaar gelede 'n idee in wording geword het tydens sy deelname aan die Woordfees toe hy gevra is om van Antje Krog se gedigte te toonset.
In die enkelsnit Bly by my, kry Lisé Swart, wat al jare as agtergrondsanger saam met Goosen sing, ook haar solobeurt wanneer sy die gedig voorlees.
Sy nuwe album handel alles oor die sirkels van die lewe, oor introspeksie en eensaamheid - wanneer daar uit chaos orde kom en wanneer dinge verander, dit eintlik dieselfde bly. Goosen vertel dat hy gereeld nog die Karoo besoek en een van sy gunsteling plekke Nieu-Bethesda is, "ek is 'n kind van die Karoo en wanneer ek die lang pad vat, is dit waar baie van my liedjies gebore word".
Terwyl die Advertiser hom groet, speel die klanke van Bring vir die Harlekyn nog wyn - dis 'n Vrydagmiddag en die naweek lê voor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’