GRAAFF-REINET NUUS — Na 'n ongeluk vroeër die week op die hoek van Cradock- en Wesstraat, het 'n besorgede inwoner van Graaff-Reinet haar bekommernis uitgespreek oor dié kruising wat sy beweer uiters "gevaarlik" is.
"Dit is presies hoekom ons wil hê daar 'n vierrigtingstop by dié kruising aangebring moet word," meen Graaff-Reinetter Penny Slade.
"Motoriste jaag gereeld oor die stopstraat in Wesstraat en met voertuie in Cradockstraat wat nie verplig word om te stop by dié kruising nie, kan daar 'n groot ongeluk nog hier plaasvind."
Die Graaff-Reinet Advertiser het die kwessie opgeneem met die munisipaliteit om uit te vind wat die moontlikheid hiervan is.
Volgens LEolynn Smityh, munisipale woordvoerder van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit, werk die munisipale raad volgens 'n Geintegreerde Ontwikkelingsplan waar kapitale projekte jaarliks in wyksvergaderings geidentifiseer word.
"Op hierdie oomblik kan die munisipaliteit net aandag kan gee aan hierdie projekte wat reeds in die GOP geïdentifiseer is," sê Smith. "Nadat 'n projek geidentifiseer is, moet 'n volle impakstudie gedoen word en daarna word projekte geprioritiseer. Ons werk volgens 'n kapitale begroting en is dit onregverdig teenoor projekte wat reeds in die verskillende wyke en volgens die plan geidentifiseer is. Ons kan ongelukkig ook nie in die middel van 'n begroting enigsins afwyk van waarvoor daar begroot is nie."
Sy voer verder aan, "Elke jaar September word die GOP hersien en die munisipaliteit nooi die gemeenskap uit om aan hierdie proses deel te neem aangesien hul insae baie belangrik is. Die datums vir hierdie hersieningsproses sal binnekort bekend gemaak word."
Smith sluit af deur te sê, "Verontagsaming van verkeersreels, soos byvoorbeeld waar motoriste nie die padtekens gehoorsaam nie, word sterk veroordeel deur die munisipale raad. Ons vra motoriste om meer versigtig te wees, aangesien almal se lewens vir ons belangrik is."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'