CRADOCK NUUS - Die Vukasebenze Sentrum in Cradock was onlangs die fokus van ’n hartverwarmende gemeenskapsinisiatief wat getuig van hoop, toewyding en samewerking.
Drie vrywilligers, nie-onderwyspersoneel by Michausdal Senior Sekondêre Skool, tesame met 'n groep matrikulante by die skool, het kragte saamgesnoer om die sentrum en sy mense te ondersteun.
“Ons wou hê die leerders moes iets leer – omgee, gee of bloot iets goeds doen,” vertel Tamara Miners, een van die weldoeners.
Die projek is gedryf deur Rolene Simons, leerderondersteuningsassistent en stigter van die NPO Lightbearers Creed, wat sê sy droom daarvan om mense te help en glo dat elke klein gebaar ’n groot verskil kan maak.
Miners, ’n onderwysassistent en moeder wat tans onderwys studeer, asook Moneap Arends, ’n kreatiewe gees en voormalige lid van die dansgroep CC, was die ander lede van die driemanskap.
Met die hulp van plaaslike borge en Sasko, wat brood geskenk het, het die groep voorbereide sop en die Sasko-brood saamgeneem en ’n dag van diens en samehorigheid by die sentrum aangebied.
Hulle beskryf die ervaring as lewensveranderend.
Volgens die Miners het die ervaring ook die leerders diep geraak. “Hulle kan nie wag om terug te gaan nie,” sê sy.
“Die personeel by Vukasebenze doen ongelooflike werk om ons gemeenskap op te hef. Laat ons almal hul hande vat – besoek hulle, help hulle, gee liefde en hoop. Hierdie sentrum is ’n ware trots vir Cradock.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’