ABERDEEN NUUS - Inwoners van Thembalesizwe, Aberdeen, is besig met 'n georganiseerde veldtog om die gebied op te ruim.
Die algemene oortuiging van die gemiddelde inwoner is dat daar nie langer vir die staat of beter dae gewag kan word nie.
Soos een gemeenskapsleier dit stel: "Terwyl ons wag vir antwoorde en hulp, gaan ons skool op ons kinders inmekaar sak; ons kinders gaan siek word en ons winkels en huise word leeg gesteel en g'n mens is meer sy lewe seker nie."
"Eers het ons die skool toegemaak; nou jaag ons dwelmhandelaars en diewe uit ons dorp uit", sê nog 'n gemeenskapsleier.
Die vuurhoutjie in die kruitvat was die hoeveelste inbraak by die winkel van 'n ouer man in Thembalesizwe Sondagnag.
Dinsdag en Woensdag was die bevelvoerder van SAPD in Aberdeen, kaptein Smit en ander SAPD-lede deurlopend op die toneel en het hulle die skare te woord gestaan en probeer verduidelik dat nie alle buitelanders en "inkommers" (mense van ander gebiede in die land) summier uit Aberdeen gejaag kan word nie.
Die gemeenskap is egter vasbeslote in hul oortuiging dat die polisie nie by magte is om wet en orde te handhaaf en persone en hul besittings te beskerm nie.
Vandag beoog die Aberdeen gemeenskap om te betoog by die plaaslike landdroshof waar 'n beskuldigde voorkom. Na bewering is die beskuldigde iemand wat die gemeenskap bestempel as 'n "foreigner".
Intussen het Smit bevestig dat die gesteelde goedere wat Sondagnag gebuit is, deur die polisie in 'n huis in Graaff-Reinet gevind is. Die ondersoek is steeds aan die gang.
Smit het vanoggend telefonies aan Graaff-Reinet Advertiser bevestig dat die polisie bewus is van die beoogde betoogaksie vandag en dat hulle, soos die vorige dae, inderdaad teenwoordig sal wees en die situasie monitor.
Gemeenskapsleiers het gister 'n beroep op alle inwoners van die hele Aberdeen gedoen om vanoggend 'n sekuriteitsvergadering by te woon vanaf 09:00 by die oop veld net buite die Masakhane-kliniek.
Hierdie is 'n ontwikkelende storie en sal opgedateer word soos meer inligting bekendraak.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'