NIEU-BEHESDA NUUS - Die NG kerk Nieu-Bethesda het die pas afgelope naweek, van 23 tot 25 November, 'n baie geseënde en suksesvolle 140-jarige herdenkingsfees aangebied.
Daar was gesokkie, geloop, gehardloop, gestap, fietsgery en baie gesels, gekuier, geëet en gedrink.
Vrydagaand het die fees afgeskop met 'n suksesvolle dans by die sportklub wat tot die vroeë oggendure geduur het.
Kort daarna, reeds om 05:00 die Saterdagoggend, het meer as 100 atlete begin inskryf vir die veldwedlope en -fietsry.
Die algehele wenner van die 21km-veldwedloop was Ricardo Meermet, terwyl Tinkie Naudé die eerste vrou oor die wenstreep was.
Die 12km-veldwedloop is gewen deur Frans Smit, terwyl Louida Jacobs die eerste vrou was wat dit voltooi het.
Die 25km-veldfietswedren is gewen deur Eugene du Plessis met Lizanne van der Merwe wat met die louere onder die vrouens weggestap het.
Deur die loop van die oggend is daar gesellig gekuier in die teetuin wat deur die dames van die gemeente 'beman' is.
In regte basaar-tradisie is koffie, jaffles, roosterkoek, kerrie-en-rys, sosaties, koeksisters en vele ander eet- en drinkgoed te koop aangebied.
Rondom 12:00 die middag het daar 'n kranslegging in die begraafplaas plaasgevind om eer te bring aan die vader van die dorp, Barend Jacobus Pienaar; die langsdienende orreliste, Elise Pienaar, asook ander oud-gemeentelede.
Die kranslegging op Pienaar se graf is waargeneem deur Boetie Pienaar en Yvonne du Plessis, albei direkte afstammelinge van Pienaar.
'n Potjiekoskompetisie met nege inskrywings het die middag vir verdere pret en kuier by die sportklub gesorg.
Die algehele wenner van die potjiekoskompetisie was Peter Plumstead en familie met 'n Marokkaanse hoender-en-botterskorsie pot.
Die algehele wenner van die potjiekoskompetisie was Peter Plumstead en familie met 'n Marokkaanse hoender-en-botterskorsie pot.
Die beste tema-prys het gegaan aan die 'Tot-hier-toe Padstal' met hul tema van 'Affie-plaas' en die Geeswenner was die Wolfies (Wolfaardt-familie).
Daar was selfs 'n prys toegeken vir die beste "spookpot" aan die Pienaars - met geen pot! Ook ander troospryse is toegeken: mees unieke bestanddeel aan die Takbokpot van Retief-familie, mooiste voorskote aan die Ganora-span en beste opkomende potjie aan die jong Wolfaardts!
Sondagoggend het 'n geseënde Feesdiens met Nagmaal in die kerkgebou plaasgevind.
Vanaf 08:30 het Adeleen Nel die regte gewyde atmosfeer geskep met haar pragtige orrelspel.
Ds Johan Esterhuysen, tans van Aliwal-Noord, het die diens waargeneem. Sy tema was: "Bethesda" - plek van lopende water; net soos die fontein wat water aan die dorp Nieu-Bethesda verskaf, vir meer as 140 jaar nog nooit opgedroog het nie, so het hierdie gemeente se geloof hul ook vir 140 jaar onderhou.
Die gemeente wil hul dank uitspreek aan almal wat die verrigtinge bygewoon of deel gehad het aan die beplanning en uitvoering daarvan. Spesiale dank aan Pierre en Elizna Fourie vir hul harde werk, voor en agter die skerms.
"Deur God se wil het 'n gemeente 140 jaar terug hier totstand gekom en alle lof, eer en dank aan Hom. Deur al die jare het Hy getrou voorsien en kyk die gemeente vandag terug op 140 jaar van genade!"
Organiseerders Pierre Fourie en Kosie Wolfaardt.
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo news'