WILLOWMORE NUUS - Willowmore se kleinboere het onlangs voor die plaaslike landroshof bymekaargekom om hul onteverdenheid oor veediefstal in die area aan die lig te bring.
Hierdie demonstrasie het tydens die hofverskyning van 'n vermeende veedief plaasgevind. Volgens Andrew Diedericks, voorsitter van die Baviaans Land and Agrarian Reform Forum (BLARF) is hierdie kleinboere nou moeg daarvoor dat hulle vee so gesteel en geslag word.
Hy vertel dat dit Niklaas Tarentaal, 'n kleinboer van die omgewing, se skape is wat geslag is en hulle het vier skape geslag maar net drie daarvan is gekry.
Rakende die demonstrasie verduidelik hy dat hulle gehoor het dat daar mense is wat bestellings insit vir gesteelde vleis. "Die laaities het glo vir mense geslag, nie vir hulle self nie. So ons wil die staatsaanklaer en die magistraat oorreed om die mense wat die gesteelde vleis koop te arresteer. Dis waarmee ons besig is."
Die Advertiser het op 28 Mei bevestig dat twee persone in aanhouding is vir die diefstal van Tarentaal se vee. Beide beskuldigdes moes op 4 Junie voor die hof verskyn vir hul formele borgaansoeke, maar die saak is weer uitgestel. Hulle bly dus in aanhouding by die korrektiewe dienste fasiliteit in Uniondale tot en met hul volgende hofverskyning.
Diedericks het bevestig dat hulle 4 Junie weer voor die hof bymekaargekom het om by die landros te pleit om die twee beskuldigdes se borgaansoeke te weier en die oorsaak van die probleem – die koop van gesteelde goedere – aan te spreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’