HOFMEYR NUUS - Elsa Aboud, gr. 1-fasiliteerder by Hofmeyr DRC Primêr, het na 41-jaar in die onderwys die tuig neegelê. Aboud is verlede week op 'n funksie by die Victoria Boetiek Hotel in Hofmeyr gegroet.
Sy het in 1979 in Vanderbijlpark begin skoolhou. "Die lewe het baie draaie met my gemaak. Maar van 2014 het ek my voete, en my vlerke gevind by Hofmeyr DRC. Die personeel en kinders het diep in my hart gekruip. Wat 'n wonderlike klomp plattelandse mense," het sy gesê.
"Juffrou Elsa het graag die voortou geneem as projekte van stapel gestuur moes word," het skoolhoof Chalaine Fleurs, gesê. "So was sy onder meer betrokke by die reël van die leerders se uitstappies, die groentetuin, die opleiding van die tuinier en die opgradering van die badkamers. Hofmeyr DRC gaan haar beslis mis."
Aboud gaan aanbly op Steynsburg, vanwaar sy en haar man al die jare elke oggend na Hofmeyr gereis het.
"Ek wens me. Fleurs, al die leerders, die personeel, die ouers en die gemeenskap van Hofmeyr die seën van die Here toe vir die jare wat voorlê. Sterkte en voorspoed," was haar laaste groet.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'