GRAAFF-REINET NUUS - Corné Saayman is sekerlik dié bekendste naaimasjientegnikus in Suid-Afrika. Hy bemark homself as Corné Masjienman, en saam met sy vrou, Letitia, het hul al Suid-Afrika deurkruis om masjiene van enige fabrikaat te diens of herstel.
Die paartjie het van 20 tot 24 November in Hofmeyr vertoef waar hulle by werkswinkels, besighede, opleidingslokale en by huise naaimasjiene en omkapmasjiene uitmekaargehaal, skoongemaak, ge-olie, herstel en gediens het.
Elke ratjie, boutjie en skroefie is deurgegaan.
Die egpaar oornag gewoonlik in hul karavaan, maar omdat Hofmeyr redelik wyd van Orania lê en hul karavaan daar veilig uitgespan was, het hulle in Hofmeyr tuisgegaan.
Die naaimasjiene by Hofmeyr Hugs of Hope se opleidingslokaal is industriële modelle, wat bykans onmoontlik is om te vervoer na dienssentrums wat meer as 300km ver geleë is, en die masjiene kon nou, vir die eerste keer, behoorlik nagegaan en gediens word.
Talle outydse soliede yster Bernina's, Singers, Brothers en Empisals is ook baie moeilik om te vervoer en baie hiervan is in masjienkabinette gemonteer, wat bykans onmoontlik sonder skade vervoer kan word.
Die ou dames is nou almal weer reisvaardig en maak stik-stik die naaldwerk klaar terwyl dit deur die materiale rol.
Corné en Letitia sal van 1 Desember in Pretoria gevestig wees en kan op sosiale media opgespoor word.
Letitia is ongetwyfeld haar tegnikusman se regterhand en net so vaardig om 'n masjien uitmekaar te haal, skoon te maak en vinnig sigbare foute op te spoor, sodat hy dit kan herstel.
Hulle het 'n groot voorraad onderdele onmiddellik beskikbaar, terwyl hulle ook vinnig enige part kan bestel.
Leatitia druk besig om 'n masjien te toets om te kyk of dit lekker "rol en sing!" Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’