HOFMEYR NUUS - Die bestuurder van die Missionvale Care Centre, Sabrina Lambers, vergesel van 'n personeellid en 'n student uit Nederland, het verlede week 'n navorsingsbesoek in Hofmeyr afgelê.
Missionvale Care Centre is 'n groot opheffings- en vaardigheidsontwikkelingsgemeenskap naby Gqeberha.
Die Nederlandse student, Nina Bartusch, doen tans haar meestersgraad by die HZ University of Applied Sciences in Vlissingen, en moes haar skripsie in Suid-Afrika kom voltooi.
Sy het as intern by Missionvale Care Centre aangesluit, waar sy die afgelope ses maande wyd navorsing gedoen het oor die samewerking tussen effektiewe NPO's om 'n verskil in gemeenskappe te maak.
Busiswa Maliwa het haar interne jaar by Missionvale Care Centre voltooi en werk nou voltyds in die instituut se bemarkings-, werwings- en skakelafdeling.
Hofmeyr Hugs of Hope
Hul besoek aan Hofmeyr Hugs of Hope op Woensdag 26 Maart het 'n wye veld gedek.
Hulle het onderhoude gevoer by Hugs se winkel, asook by die naaldwerkopleidingsentrum.
‘n Besoek aan die DRC Twinsville Primêre Skool, aan wie Hugs hulp verleen, het ook deel van hul navorsing gevorm.
Voorts het hulle gesprekke gevoer met verskeie besighede en privaatpersone in Hofmeyr.
Die wenke en belangrike inligting wat uitgeruil is, sal vir beide Missionvale en Hugs van groot hulp wees.
Die besoekers het ook vanaf Hofmeyr babaware vir die babasorgeenheid by Missionvale, asook skoolhemde vir die Missionvale Laerskool op die Missionvale Care Centre se kampus, saamgeneem.
Cradock ook besoek
Die drie vroue was die vorige dag, Dinsdag 25 Maart, in Cradock waar hulle navorsing gedoen het oor die impak wat Hofmeyr Hugs of Hope maak deur samewerkingsooreenkomste met omliggende NPO's.
Hier het hulle die Lighthouse Skills Hub, waar 'n gewese student van Hugs op Hope, Thandwa Tengu, tans 'n werkswinkel bedryf, besoek.
Ander plekke in Cradock waar hulle besoek afgelê het, is Victoria Manor, die Tuishuise, en die Vukasebenze skuiling.
Die stilte en oop hemelruim oor Hofmeyr was vir die besoekers 'n noemenswaardige bekendstelling aan die Karoo, hoewel die nat grondpaaie hulle op hul tone gehou het.
Lambers het 17 jaar gelede uit Duitsland gekom om by die Missionvale Care Centre as intern aan te sluit.
Sy het egter haar lewensmaat in Gqeberha ontmoet, en is vandag 'n trotse Suid-Afrikaner.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’