CRADOCK NUUS - Twee vroue en 'n man is Vrydag 15 Augustus in hegtenis geneem nadat 'n inwoner van Cradock byna 'n slagoffer van kaartbedrog by die Absa-kitsbank geword het.
Nxuba (Cradock) K9-eenheid, Navic en lede van CDK Sekuriteit het die inligting deur die slagoffer deurgegee opgevolg en die verdagtes se voertuig opgespoor.
Die voertuig is deur kringtelevisiekameras op pad na King Williams Town opgetel.
Lede van die Oos-Londense Polisie se TRT-eenheid het die verdagte voertuig onderskep en die drie verdagtes is gearresteer.
Daar is ook beslag gelê op hul voertuig, 'n wit Toyota Starlet.
Wees versigtig
Die publiek word herinner om uiters versigtig te wees wanneer hulle geld inbetaal of onttrek by kitsbanke, veral wanneer mense buite die kitsbank in 'n voertuig sit, asook wanneer mense wat in die ry agter hulle staan, op hul selfoon besig is terwyl kitsbankgebruikers hul transaksies doen.
Indien die kaartmasjien 'n kaart sluk, rapporteer dit onmiddellik by die bank se noodnommer, en moet nooit enige hulp van omstanders aanvaar by die kitsbank nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’