GRAAFF-REINET NUUS - Twee mans is Sondag 11 April in hegtenis geneem op aanklag van verkragting ná 'n beweerde voorval die vorige dag by 'n vrou se huis in Geluksdal, Graaff-Reinet.
Volgens plaaslike polisiewoordvoerder, kaptein Bradley Rawlinson, beweer die slagoffer (42) dat sy op Saterdag 10 April, omstreeks 15:00 die middag by haar huis deur die twee verdagtes van onderskydelik 26- en 46-jaar oud, om die beurt verkrag is na hulle haar in haar slaapkamer oorrompel het.
Ná die voorval het die verdagtes blykbaar te voet gevlug. Die slagoffer het die polisie gekontak en die saak aangemeld waarna albei verdagtes op Sondag 11 April in hegtenis geneem is.
In 'n onverwante voorval is 'n 27-jarige man op Saterdag 11 April in hegtenis geneem ná 'n beweerde voorval in Santaville vroeër daardie oggend.
Volgens Rawlinson vertel die slagoffer (26) dat sy omstreeks 21:00 daardie aand saam met haar kêrel gaan slaap het waarna sy omstreeks 03:00 wakker geword het terwyl die verdagte besig was om haar te verkrag. Haar kêrel het blykbaar nie wakker geword tydens die voorval nie.
Die verdagte het na die vooval gevlug, maar is later daardie dag deur Graaff-Reinet se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS), in hegtenis geneem.
Al drie verdagtes sal eersdaags in die hof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'