KAROO NUUS - Tydens die jaarlikse byeenkoms op die vooraand van die kragmeting tussen Hoër Volkskool en Hoërskool Cradock, word daar altyd 'n gesellige geleentheid by Volksies aangebied.
Beestert, afval en skaapkoppe word voorberei wat by die skool, of tuis geniet kan word.
Toe drie neefs onder die skaapkoppe inklim, moes mens dink aan Jan Rabie se epiese gedig, Drie kaalkoppe eet tesame!
Die neefs, almal tans kapteins van hul onderskeie Volkskool-rugbyspanne, het egter op 'n baie meer beskaafde wyse aan die lekkerny gesmul as Rabie se drie gulsige eters.
Na hulle die skaapkoppe verorber het, het Pieter van der Merwe (1ste span kaptein), Louw Borcherds (2de span kaptein) en Alwyn van der Merwe (o. 21-kaptein) sekerlik genoeg murg in hul pype vir die wedstryde wat voorlê.
Groot moeite is gedoen met spoggerig gedekte tafels, rustige musiek en lekker warm vure.
Almal het die aand terdeë geniet.
Van links is Louw Borcherds (kaptein tweede span), Pieter van der Merwe (kaptein eerste span) en Alwyn van der Merwe (o. 21-spankaptein). Agter is Paula Zandberg wat gehelp het om die aand 'n sukses te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’