GRAAFF-REINET NUUS - Die implementering van Eskom se strafmaatreëls in die Dr Beyers Naudé munisipaliteit tesame met die voortdurende verskerpte beurtkrag het ‘n dreigende gesondheidskrisis geskep.
Samantha Graham-Maré, DA-kiesafdelingsleier in die Dr Beyers Naudé, verduidelik dat die Midland hospitaal te Graaff-Reinet reeds onder geweldige druk was weens Eskom se beurtkrag maar dat die hospitaal se personeel en administrasie tot dusver daarby kon aanpas.
Die bykomende ses uur lange kragonderbrekings per dag wat tans in die Dr Beyers Naudé munisipaliteit implementeer word sal die hospitaal egter tot breekpunt dryf.
“Die Midland hospitaal ervaar gewoonlik ‘n drastiese toename in ongevalle gedurende die Desember vakansietydperk, veral weens die toenemende ongelukke op die N9, N10 en R65 paaie,” sê Graham-Maré.
Volgens Marie de Vos, Hoof Uitvoerende Beampte van die Midland hospitaal, het die hospitaal sedert 1 Desember 2022 tot op datum al 71 ongelukslagoffers behandel.
Sy noem dat hierdie getal nie eens die slagoffers van kleiner of minder ernstige ongelukke insluit nie. Graham-Maré noem dat die Midland hospitaal die enigste hospitaal in die area is waar x-strale beskikbaar is en dat die meeste van die ongelukslagoffers dus daarheen oorgeplaas word.
Die x-straalfasiliteit werk egter nie met die kragopwekker nie en dit het tot gevolg dat pasiënte ure moet wag voordat hulle gehelp kan word wat dan vanselfsprekend ‘n impak op akkurate en tydige behandeling het.
Die bykomende kragonderbrekings plaas ook 'n druk op die beperkte dieselvoorrade omdat die kragopwekker nou tot 12 uur of selfs meer per dag moet werk. As die diesel opraak, of die kragopwekker ingee, staar die hospitaal die baie werklike moontlikheid in die gesig dat hulle nie gesondheidsorgdienste sal kan verskaf nie,” sê Graham-Maré.
Graham-Maré beklemtoon dat die voortdurende kragonderbrekings 'n verwoestende impak op gemeenskappe regoor Dr Beyers Naudé munisipale area het. “Baie het eenvoudig nie die middele om water te koop of alternatiewe gesondheidsorgfasiliteite te besoek nie.”
Die DA het aan die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, geskryf om die lot van die munisipaliteit uit te lig en sy dringende ingryping te versoek maar tot dusver daar was nog geen reaksie hierop nie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'