GRAAFF-REINET NUUS - Nadat Dr Naudé Malan in 2018 ‘n opleidingsessie in Hofmeyr aangebied het, het hy die afgelope naweek tydens ‘n opvolgbesoek ontwikkelingsboere en tuiniers toegespreek oor sloottuinmaak, of, soos dit bekend staan, trench gardening.
Malan is medeprofessor in sakebestuur aan die Universiteit van Johannesburg en bedryf iZindaba Zokudla, 'n projek wat daarop gemik is om geleenthede vir stedelike landbou te skep in 'n volhoubare voedselstelsel in Soweto.
Die projek betrek en verbind stedelike boere, entrepreneurs, akademici, staatsamptenare en ander belanghebbendes en mik op deelnemende tegnologie en ondernemingsontwikkeling.
Malan het al wyd oor Suid-Afrika se maatskaplike welsynstelsel, landbou, ontwerp metodologie en menseregte publiseer en die ontwikkeling van tegnologie vir stedelike en kleinboere vorm deel van sy suksesvolle bedryfstakke.
Hy bemark met trots sy instansie, iZindaba Zokudla: Innovasie in die Soweto-voedselstelsel. iZindaba Zokudla is isiZulu vir "Gesprekke oor kos".
“Dit verbind die universiteit, navorsers, studente, gemeenskappe, entrepreneurs en ander belanghebbendes in ‘n gespreksforum waar kennis, saailinge, saad, markte, ontwikkeling en wenke uitgeruil word,” sê Malan.
Hofmeyr Hugs of Hope se opleidingsbestuurder, Sanet Coetzer, sê die instansie en Hofmeyr se ontwikkelingsboere is besonder bevoorreg om by hierdie voorstander van gesonde voedsel en die herwinning van herbruikbare plantmateriaal, te leer.
Jacob Runyambo, 'n plaaslike ontwikkelingsboer, sê die opleiding het hom geleer van hoe hy alles wat beskikbaar is, kan gebruik om soveel as moontlik groente in sy tuin te produseer.
"As dit werk vir klein tuintjies in Soweto en genoeg groente lewer sodat daardie boere kan bemark, sal dit beslis ‘n groot verskil in die Karoo maak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’