Gallery
KAROO NUUS - Inwoners van dorpe in die Dr Beyers Naude munisipale area spring deesdae self in om hulle dorpe staande te hou.
Pauline van Zyl, voorsitter van die Jansenville Inwoners Forum, vertel dat dienste en infrastruktuur in die dorp erg agteruitgaan.
Omdat daar geen bestaande instansie was om die uitdagings aan te spreek nie, het inwoners teen die einde van 2020 hulle eie forum gestig.
Lede van die forum en helpers het onmiddelik vullis en rommel langs die strate verwyder en die bougainvilleabome in Brugstraat is gesnoei. Die afgeskeepte en vervalle kerkhof is deur Bettie van Wyk en haar span helpers skoongemaak.
Op 'n stadium was daar geen vullisverwydering in Jansenville nie. Die forum het toe vasgestel dat die voertuie wat vir vullisverwydering gebruik word se lisensieskyfies nie op datum was nie en dus nie gebruik kon word nie.
Gedurende hierdie tydperk het die munisipaliteit probeer om die vullis met 'n klein bakkie te verwyder, maar die skyfies is intussen hernu.
Fotogalery: Inwoners maak self dorp skoon
Die forum spog nou dat Jansenville een van die skoonste dorpe in die Dr Beyers Naude munisipale area is.
Die forum het ook die riool wat in die Sondagsrivier vloei by die Sundays Lower Water User Association aangemeld en dit word ondersoek. Hulle sê nog 'n uitdaging is dat vyf van die ses waterpompe langs die rivier waarmee water vir die dorp gepomp word, stukkend is.
Die forum het dit vasgestel toe hulle onsuiwerhede in die kraanwater gesien het. By navraag is hulle ingelig oor die stukkende pompe en dat water nou van 'n ander boorgat in die distrik gepomp word om water aan die dorp te verskaf.
Volgens die forum verstaan hulle die munisipaliteit se argument dat die watertafel besig is om te sak, maar dit verander nie die feit dat die pompe stukkend staan en glad nie gebruik kan word nie.
Volgens die munisipaliteit is net een boorgat foutief en word herstelwerk tans gedoen.
Die forum het 'n versoek aan die Dr Beyers Naude-munisipaliteit gerig om met die kommitteelede te ontmoet sodat die gemeenskap se uitdagings bespreek kan word. Volgens die munisipaliteit sal die kantoor van die burgemeester 'n datum en tyd met die forum bevestig.
Die bestuur van die Jansenville Inwoners Forum is van links: Eric Heydenrych (tesourier), Antoinette Botha (sekretaresse), Pauline van Zyl (voorsitter), Denron Koetaan (ondervoorsitter), Issie Cadle (addisionele lid) en Rhona Koetaan (addisionele lid).
Steytlerville
Helein van Tonder, 'n inwoner van Steytlerville, maak ook al sedert die einde van die inperking gedeeltes van die dorp self skoon. Sy hou die piekniekareas, die gebied voor die Steytlerville Villa Gastehuis en die ruimtes voor haar eie huis skoon.
Wanneer sy swartsakdonasies en fondse kry, maak sy ook die paaie skoon. Die helpers betaal sy uit haar eie sak.
Van Tonder probeer om twee keer per maand skoon te maak, maar noem dat dit afhang van die beskikbaarheid van helpende hande. Sy sê dat sy al begin moed verloor omdat die meeste mense niks doen om te help nie, maar maak dit duidelik dat sy sal aanhou omdat dit belangrik is dat die dorp skoon moet wees wanneer toeriste daar deurry of besoek aflê.
Van Tonder beklemtoon die realiteit dat dit net eenvoudig nie gedoen sal word as mense in die gemeenskap dit nie self doen nie.
Dit is ongelooflik wat Bettie van Wyk en haar helpers by Jansenville se kerkhof vermag het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'