GRAAFF-REINET NUUS - Die doellose moord op die geliefde Karin Marais het 'n skokgolf deur Graaff-Reinet gestuur en die gemeenskap in rou gedompel.
Karen was 'n liefdevolle vrou wat soveel van haarself vir ander gegee het. Sy het haar gesin onvoorwaardelik liefgehad en haar gemeenskap met oorgawe gedien.
Volgens die Karoo Community Church was Karin se geloof en haar toewyding aan God opmerklik. Dit was die grondslag van haar lewe wat haar gevorm en gelei het in elke aspek van haar lewe.
Tydens die emosiebelaaide roudiens op Dinsdag 13 Julie het familie en vriende wonderlike herinneringe gedeel en haar beskryf as 'n steunpilaar wat hulle op soveel maniere geïnspireer het. Dit is duidelik dat haar geloof in God, haar liefde vir haar gesin en haar deernis vir haar medemens, haar definieer het. Haar eggenoot, dokter Albertus 'Dakman' Marais, het haar beskryf as iemand wat "stylvol en grasieus was, maar tog die mooi in alles raakgesien het."
Hy het vertel hoe sy vreugde kon vind in die kleinste dingetjies – selfs in die klippies wat sy so gereeld opgetel en bewonder het. Hy het ook genoem dat dit hierdie jaar hul 36ste huweliksherdenking sou wees, maar dat hulle veral in die laaste 15 jaar saam geweldig geestelik gegroei het. Dit is baie duidelik dat die Marais-gesin 'n baie hegte band het. Hulle verwys na hulself as vuurhoutjies omdat een vuurhoutjie maklik breek, maar vuurhoutjies bymekaar nie maklik kan breek nie.
Die droefheid van die Graaff-Reinet-gemeenskap is onmeetbaar. Honderde mense het hul hartseer en medelye met die familie op Facebook uitgespreek en meer as 400 mense het ingeskakel op die Facebook-uitsending van Karin Marais se roudiens.
Dinsdagmiddag het ongeveer 300 voertuie die weg na die Marais-woning gebaan om plante en briefies met boodskappe aan die familie te oorhandig as laaste eerbetoning.
Graaff-Reinet Advertiser het innige meegevoel met die verlies van die Marais-familie en dink in hierdie tyd veral aan dr. Marais en die kinders, Mieke, Elze, Imke en John, wat hul geliefde eggenote en moeder aan die dood moes afstaan.
Karin Marais is op Donderdag 8 Julie deur 'n inbreker noodlottig in die skouer gesteek.
Kaptein Bradley Rawlinson, 'n polisiewoordvoerder, het bevestig dat 'n verdagte op Sondag 11 Julie in hegtenis geneem is. Die 26-jarige het Maandag in die Graaff-Reinet-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Klein Karoo nuus'