KAROO NUUS - Skrywer en digter Dominique Botha is verlede Saterdagaand deur Ettienne van Heerden met die Orde van die Windpomp vereer. Sy is die vyfde wenner van hierdie toekenning.
"Dominique Botha het op die tweede dag van die Veldsoirée in Cradock dié innige en eksentrieke prys gekry vir haar versengende voordrag tydens die Veldsoirée, teen die agtergrond van haar boeke en wat sy in die algemeen doen vir die kunste en die mense in die omgewing waar sy woon," sê Van Heerden.
Botha se roman, Valsrivier is met verskeie pryse vereer en haar digbundel Donkerberg/Bloodwood het die Ingrid Jonkerprys gewen.
Sy is deel van die Pirogue-kollektief wat kunstenaars in Afrika ondersteun en dien op die raad van die Spier-kunstrust, die Afrika-sentrum en die Yellowwoods- kunstrust. Sy is getroud met Adi Enthoven en hulle het vier kinders.
Sy kom van die Vrystaat, maar bly nou in Johannesburg.
Die funksie is gehou op die plaas Buffelshoek, waar Olive Schreiner begrawe is en waar sy gewoon en gewerk het.
Die skrywers het verlede Sondag teen Buffelskop uitgery na Schreiner se sarkofaag, waar hulle die manjifieke en majestieuse Karoo kon waardeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’