GRAAFF-REINET NUUS - Johan Vermaak van Hofmeyr het op 29 Oktober 'n versoek op die Hofmeyr-boerevereniging se WhatsApp-groep gestuur om belangstelling in 'n Movember-uitdaging te toets.
Die Movember-uitdaging word elke November ten bate van die stryd teen prostaatkanker gehou.
'n Bedraggie van R150 was betaalbaar om deel te neem en die manne moes 'n foto van hul kaalgeskeerde bolip op die groep plaas en van nuuts af begin groei.
Op 1 November het 48 deelnemers van so vêr soos Graaff-Reinet reeds geregistreer en twee borge het na vore getree met pryse.
Alwyn Barabas van die Teviot Soutpanne het aangekondig dat hul die wenner sal beloon met een ton sout vir veelekke en Murray Lord het ook ingekoop met 'n naweek se verblyf by Beaconsfield Tented Chalets.
Van die deelnemers het vir die eerste keer in 45 jaar hul snorre afgeskeer.
Hierdie manne se kinders, kleinkinders en in baie gevalle ook hul eggenotes, het hulle nog nooit vantevore sonder 'n snor gesien nie.
Vele van die deelnemers het ook nog nooit 'n snor gekweek nie en hulle kon nie wag om so spoedig moontlik weer daarvan ontslae te raak nie.
Talle wenke is uitgeruil en blykbaar laat hoendermis en heuning voorwaar 'n snor baie vinniger groei. Heel insiggewend was dat die hoenderboer ook eventueel as die wenner aangewys is!
Verskeie snorre het uiteindelik te voorskyn gekom: die Hitlersnor, die Passion Gap, die Hotch Tokkelos, die A-spansnor, die Parmantige Snor, die Blou Smurf, Ou Vuilbaard, die o14-snor en dan, die baie spesiale Sewesrugbyspan - waar die veld groot is, met net so hier en daar 'n speler!
Sommige deelnemers het teen 22 No-vember verklaar dat hul R150 reeds meer rente gegroei het as hul snor.
En uit die groep van 48 het net een boer moed opgegee teen die middel van die maand.
Een van die deelnemers het flitse teen 'n spesiale aanbieding op Swart Vrydag aangebied, eksklusief aan die manne wat lig nodig het om hul snor te vind.
'n Groot aantal van die deelnemers het reeds Vrydagaand, 29 November, by die Victoria Boetiekhotel in Hofmeyr saamgetrek om hulle snorre se vordering te vergelyk.
Die finale foto's vir beoordeling is Sondag 1 Desember geneem en Hennie van Heerden het teen Graaff-Reinet Advertiser se saktyd die grootste aantal stemme met sy welige snor verdien. Dié snoruitdaging het 'n volle R7 200 ingesamel.
Die een ton sout is verdeel tussen die 2de en 3de plekke aan Troepie Pienaar en Jimmie Vermaak en Van Heerden en sy gesin sal die wegbreek na Beaconsfield op die Brakrivier baie geniet.
Hennie van Heerden wys met trots sy wensnor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’