GRAAFF-REINET NUUS - Al ooit gewonder hoekom angorabokke en merinoskape in die wintermaande geskeer word?
Graaff-Reinet Advertiser het by André Viviers, OVK-tegniese veldbeampte in die Jansenville-distrik, gaan aanklop om meer uit te vind oor hierdie bedryf.
Viviers vertel dat OVK van privaat skeerspanne gebruik maak wat ses-man sterk is: drie skeerders; 'n vaggooier - hy gaan haal die vag (skeersel) op die skeervloer en gooi dit op 'n sorteer tafel oop; 'n afrander - hy haal al die misbevlekte klosse en korter stukkies uit die vag; en 'n klasser - hy sorg dat die beter- tweede- en neklyne in verskillende lyne geplaas word.
Angorabokke
Angorabokke word vir die eerste keer op ses maande geskeer, maar in Jansenville word hulle op vier tot vyf maande oud geskeer omdat hulle in Noorse vasgevang word - 'n tipe vetplant wat vol kort dorings is. Die bokke eet graag gras en bossies onder die Noorse en dan sit hulle hare in die vetplant vas, en moet hulle losgemaak word.
"Dis vir daardie rede dat ons die bokke ook 'n bietjie korter skeer," vertel Viviers. Dit hang ook grootliks af wanneer die boer se lamtyd is en wanneer die bok vir die eerste keer reg is om geskeer te word. "Gelukkig het die boere hier almal dakspasie en jaag hulle die bokke onderdak in die wintermaande totdat die hare van die bok weer toeslaan, dan is hulle weer oraait," sê Viviers.
Die term toeslaan is wanneer die bok of skaap geskeer is en die haar/wol binne twee tot drie dae weer begin krul en die oppervlak van die vel van die dier bedek.
Merinoskape
Merinoskape word elke agt tot tien maande, afhangende van die boer se bestuursprogram, geskeer, daarom word party skape ook in die winterseisoen geskeer. "Die skeer van wol bevoordeel die groei asook gesondheid van die dier self," vertel hy. 'n Ander rede waarom die skape elke agt tot tien maande geskeer word is omdat die skoonopbrengs hoër is as die van 12 maande. Wol van 11 maande en ouer het 'n hoër stofindringer persentasie.
"Hoe skoner, hoe mooier en hoe duurder," sê Viviers.
Skeer bevorder wolgroei en die dier se algemene gesondheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’