GRAAFF-REINET NUUS - Die statistieke vir die afgelope ses maande het aan die lig gebring dat 2 615 mense tussen Julie en Desember in die Oos-Kaap vermoor is.
Ongeveer 14 mense word dus daagliks in die Oos-Kaap vermoor.
En die misdaad hier neem steeds toe. In Graaff-Reinet word daar daagliks talle misdrywe gepleeg, en so ook in al die omliggende dorpe.
Yusuf Cassim, lid van die Oos-Kaapse Parlement en skaduminister vir gemeenskapsveiligheid, het op 12 Maart op die pas vrygestelde misdaadsyfers vir die Oos-Kaap, wat in die Graaff-Reinet Advertiser se besit is, gereageer.
Cassim deel mee dat hy en sy span ’n verbintenis van die parlement verkry het om die provinsie te besoek en misdaadintelligensiehulpbronne hier te ondersoek.
Hy stel dit reguit dat die jongste misdaadstatistieke bevestig dat geweldsmisdaad buite beheer is.
“Misdaad vernietig werkgeleenthede en dryf besighede weg, wat wetsgehoorsame burgers in vrees laat leef,” sê hy.
Die jongste provinsiale misdaadstatistieke van 12 Maart toon dat die Oos-Kaap steeds die moordsentrum van Suid-Afrika bly.
Geweldsmisdaad is besig om buite beheer te raak, lewens te verpletter, beleggings te knou en werksgeleenthede dood te maak.
Die Oos-Kaap het die hoogste moordverhouding in die land, wat beteken dat ’n inwoner van die Oos-Kaap ’n groter kans staan om hier vermoor te word as enige ander provinsie in die land.
G’n wonder, aangesien ses van die Oos-Kaapse polisiekantore onder die top 30 vir moord landwyd is.
Na ’n beroep aan die voorsitter van die nasionale polisieportefeuljekomitee, parlementslid Ian Cameron, het hy homself daartoe verbind dat die komitee die provinsie sal besoek om toesig te hou.
Die komitee sal ook die Oos-Kaap se misdaadintelligensievermoëns en hulpbronne ondersoek.
Vervolgens is daar ook ’n mosie by die Oos-Kaapse Wetgewer ter tafel gelê wat afgesonderde befondsing vir hulpmiddels vir die insameling van intelligensie eis, insluitend:
• Grabbers (om kriminele kommunikasie te onderskep)
• ShotSpotter (om geweervuur op te spoor en daarop te reageer)
• Hommeltuie, paneelbordkameras, lyfkameras en nommerplaatherkenningstelsels.
“Die gemeenskapsveiligheidsbegroting moet herprioritiseer word om misdaadbekampingsmaatreëls wat werklike resultate lewer te finansier,” sê Cassim.
“Die minister vir gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, behoort sy kop in skaamte te laat sak, omdat sy departement nie ’n sent aan misdaadbekampingstegnologie bestee, in ’n provinsie wat die moordsentrum van Suid-Afrika is nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’