GRAAFF-REINET NUUS - Wanneer jy die roete vanaf Cradock na Graaff-Reinet en vanaf Graaff-Reinet na Aberdeen, op die R61 ry, sien jy oral in die verte plate van die mooiste pers blomme.
Die Karooboere noem hulle 'karootulpe', hierdie ligpers blomme wat herinner aan fyn irisse wat in die herfs skielik verskyn, 'n oordaad pers blomme gee, en dan met eerste ryp totaal verdwyn.
Hierdie 'tulpe' kom oral in die Karoo voor.
Maar, so mooi soos die massavertonings van die pragtige fyn blomme is, is hulle ongelukkig giftig vir diere.
Plase waar hulle ruig groei, het dikwels kampe wat hierdie tyd van die jaar vermy moet word; 'n boervrou uit die omgewing vertel dat dié kamp op hulle plaas bekend staan as die "gifkamp" in herfstyd, en dat geen vee dan daar mag wei nie.
'n Klein bietjie navorsing het die volgende inligting gegee:
Moraea polystachya, algemeen bekend as poublom, of karootulp, is 'n kragtige, meerjarige kormagtige spesie uit die winter- en somerreënvalgebiede van Suider-Afrika.
Dit is 'n inheemse spesie wat tot 80 cm hoog word. Vir ses tot agt weke gedurende die herfs en vroeë winter, produseer hulle groot getalle violet tot ligblou irisagtige blomme met geel middelpunte.
As jy hierdie spesie in potte kweek, moet jy dit droog hou aan die begin van die somer, maar in die middel van die somer begin natmaak om die langste blomtydperk te kry.
Hierdie spesie is giftig vir vee, so wees versigtig dat dit nie in die natuur ontsnap nie. Die saad kan in die lente en herfs gesaai word.
Die Advertiser was gelukkig genoeg om die blomme van naderby te kon afneem toe 'n hele ruiker met dié pragtige blomme in 'n padstal uitgestal was.
Geniet die Karoo se herfsprag, maar maak seker jy laat nie jou diere naby die blomme wei nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’