GRAAFF-REINET NUUS - Die gemeenskap van Sunnyside in Graaff-Reinet is steeds hande in die hare oor rioolprobleme wat in 'n ondraaglike situasie ontaard het.
Inwoners kan nie die stank wat deur verstopte dreine agter die buurt veroorsaak word verduur nie.
"Soms stink dit so erg dat ek glad nie my deure of vensters kan oopmaak nie, maar selfs al hou ek dit toe, help dit nie veel nie," kla 'n moedelose inwoner. "Ek moet in elk geval my deure en vensters toe hou, want as ek waag om my deure oop te los, is my hele huis oortrek van die vlieë."
Volgens raadslid Joy Williams het sy die probleme rakende die verstopte dreine asook moontlike probleme by die abattoir al in Maart 2022 onder die munisipaliteit se aandag gebring. Sy voer aan dat die abattoir geen behoorlike wegvoerstelsel vir hul bloederige afvalwater gehad het nie. Op daardie stadium het die munisipaliteit glo 'n waarskuwing aan die abattoir uitgereik dat hulle boetes opgelê sal word indien hulle nie hul dreineringstelsel verbeter nie.
Dit was ongelukkig nie die einde van die Sunnyside inwoners se ellende nie en gevolglik het Williams op 14 November 2022 'n formele klagte by die direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, ingedien.
Gesondheidsrisiko
Williams sê sy was self in Sunnyside om die situasie te assesseer. "Die vlieë en die reuk in die lug is iets verskrikliks," sê Williams. Dreine agter Sunnyside loop oor en stink geweldig en volgens Williams is die abattoir-dreinering ook nie ideaal nie.
"Die drag van sake in Sunnyside is 'n enorme gesondheidsrisiko en daarom het ek die direkteur versoek om ondersoek in te stel en binne sewe dae vanaf die datum van my skrywe, terugvoer te gee."
Abbatoirs pleit onskuldig
Die Advertiser het met beide Graaff-Reinet Abattoir en Cape Karoo International Abbatoir waar volstruise geslag word, in gesprek getree.
Willie Gouws, eienaar van Graaff-Reinet Abattoir, sê Graaff-Reinet Abattoir is beslis nie die oorsaak van die probleme in Sunnyside nie. Hy verduidelik dat hulle wel destyds van tyd tot tyd probleme ondervind het, maar dat dit baie lank gelede was. Die abattoir se afvoerstelsel is intussen heeltemal opgradeer en voldoen aan streng higiëniese maatreëls. Alle bloederige afval word in houers opgevang en ten minste een maal per week weggery na die stortingsterrein.
Gouws noem dat hulle nie eens vlieë by die abbatoir het nie en daarom is hy doodseker dat die probleem nie by hulle kan lê nie. Cape Karoo International Abattoir se bloederige afval word in 'n tenk opgevang en daarna direk in dromme ingepomp.
Die dromme word dan elke tweede of derde dag na hul hoofkantoor in Oudtshoorn vervoer waar dit verwerk word. Wanneer die perseel skoongemaak word, is daar wel 'n klein bietjie bloederige water, maar dit is minimaal. Dit wil dus voorkom asof Cape Karoo International Abattoir ook nie vir die probleme in Sunnyside aanspreeklik gehou kan word nie.
Staaldiewe te blameer
Na aanleiding van Williams se klagte het Byron Koeberg van die munisipaliteit se infratruktuurdienste department haar op 9 Desember 2022 na die agterkant van Sunnyside vergesel sodat sy die oorsaak van die probleme aan hom kan uitwys.
By nadere ondersoek het Koeberg ontdek dat die meeste van die dreine se staaldeksels weg is en dat baie van die dreine se beton gietstukke stukkend gekap is – duidelik die werk van staaldiewe.
Hy het ook vasgestel dat 'n gedeelte van die rioollyn droog is en volgens hom dui dit beslis op 'n verstopping. Die mees logiese verduideliking hiervoor is dat stukke van die beton waarskynlik in die rioollyn beland het toe die beton gietstukke stukkend gekap is.
Koeberg het onderneem om reëlings te tref vir die skoonmaak van die rioollyn en ook om 'n opvolgbesoek by die abattoir af te lê om seker te maak of hul afvoerstelsels wel verbeter is. Hy het ook onderneem om so gou moontlik terugvoer aan Williams te gee.
Die Graaff-Reinet Advertiser het op 19 Desember 2022 met die munisipaliteit in verbinding getree om vas te stel of daar al enige vordering gemaak is.
Koeberg was op daardie stadium met siekverlof, maar Arends het onderneem om hom in kennis te stel dat hy met die Advertiser moet kontak moet maak. Tot op hede het hy egter nog nie terugvoer gegee nie.
Volgens Williams het sy ook nog niks gehoor nie. "Dit verbaas my glad nie en dit sal my ook nie verbaas as ons teen Maart nog steeds met dieselfde probleem sit nie."
Sommige van die dreine ager Sunnyside loop oor en die vrot rioolwater stink verskriklik.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'