Update
GQEBERHA NUUS - ’n Derde verdagte in die moord van die Port Elizabethse aanklaer Tracy Brown is op 20 Desember 2025 in hegtenis geneem en het later daardie week in die hof in New Brighton, Gqeberha, verskyn.
Volgens die Oos-Kaapse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, was die inhegtenisname van die verdagte, Thamsanqa Mthembu (33), ’n gesamentlike operasie deur die Blitspatrollie en die K9-eenheid van Bloemfontein, tesame met die Valke en die eenheid vir ekonomiese beskermde hulpbronne.
Brown is op 31 Julie koelbloedig voor haar huis in Gqeberha, doodgeskiet terwyl sy nog saam met haar lewensmaat en jong kind in haar voertuig gesit het.
Die woordvoerder van die Vrystaatse polisie, adjudant-offisier Ndiphiwe Mhlakuvana, het gesê die inhegtenisname het gevolg op geverifieerde inligting dat die verdagte besig was om uit die Oos-Kaap te vlug.
Hy is op die N1 naby Bloemfontein vasgekeer en by die Welkom-polisiestasie gehou totdat hy na Gqeberha vervoer is vir sy hofverskyning.
Die polisie het ook drie selfone wat in sy besit was en wat moontlik meer inligting oor die gebeure sal verskaf, gekonfiskeer.
Mthembu se twee medebeskuldigdes, Sithembile Xungu (33) en Ayabulela Busakwe (31), is in aanhouding sedert hul inhegtenisname in September 2025.
Tydens hul hofverskyning in September is bewyse dat die moord in opdrag van ’n gevangene in die St. Albans Korrektiewe Sentrum by Gqeberha gepleeg is, voorgelê. Brown is meer as 10 keer geskiet en is in die gesig, nek en buik getref.
Volgens ’n beëdigde verklaring deur Busakwe is Brown skynbaar geteiken omdat sy “probleme veroorsaak het vir ’n vriend”.
Mthembu bly in aanhouding tot 3 Maart wanneer hy na verwagting saam met Busakwe en Xungu in die hof sal verskyn vir borgtogaansoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’