GRAAFF-REINET NUUS - Talle inwoners van Cradock het weereens verlede week sonder water gesit.
Die munisipale bestuurder van die Chris Hani Distriksmunisipaliteit, Gcobani Mashiyi, het gesê die onderbreking is veroorsaak deur 'n tegniese probleem by die Geelbooi Rouwaterpompstasie buite Cradock.
Hierdie kwessie het die pomp van water na die waterwerke beïnvloed en vragmotors moes water aanry.
Mashiyi het gesê ‘n werkspan probeer om die probleem op te los en ‘n kragopwekker is ook ingespan, maar inwoners word steeds aangeraai om water spaarsaam te gebruik.
Almal help
Petrus Plaatjies, gemeenskapsleier het gesê dat gemeenskapslede die nood van Hillside gehoor het. Inwoners is versoek om leë literhouers te voorsien en ‘n groot reaksie is gekry.
Mense oral in die dorp het die inisiatief ondersteun om Hillside van water te voorsien. Een gemeenskapslid het R300 geskenk waarmee nog water gekoop is.
Met die waterspan se aankoms op Hillside het hul verneem dat die trok reeds daar was om water by die Jojo-tenks af te lewer.
Skoon drinkwater gelewer
“Dit het egter nie die span gekeer om voort te gaan om skoon drinkwater af te lewer nie, want inwoners het gekla dat die water wat uit die vragmotor kom nie skoon genoeg is vir verbruik nie.
Nadat houers leeggeloop het, is daar weer gery om die leë houers te gaan vul, want daar was 'n werklike behoefte aan drinkwater, veral in Phakamisastraat op Hillside.
Inwoners was uiters dankbaar en het ook rapporteer dat nie alle strate deur die vragmotor gediens is nie. Toilette het begin stink en boonop was dit 'n versengende 40°C buite,” het Plaatjies gesê.
Diesel geskenk
Sondag het die span weer water aangery en dié keer is een van die voertuie wat gebruik is om water aan te ry, deur een van die motorhuise met R500 diesel geseën. Die span het meer as 1000 liter water aan huishoudings gelewer.
Inwoners van Hillside sê die watertrok het Sondag net een keer gekom - die Chris Hani-munisipaliteit betaal nie vir oortyd na 13:00 op Sondae nie.
“As 'n span wat graag die gemeenskap in nood help, sal ons nie ophou om goed te doen vir diegene wat dit nodig het nie,” sê Plaatjies.
Inwoners word versoek om alle klagtes onmiddellik te rapporteer op die 24/7-kliënte-oproepsentrum deur 'n WhatsApp te stuur na 0800 100 100 of klagtes te rapporteer by complaints.chrishanidm.gov.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’