CRADOCK NUUS - Die gemeenskap van Cradock asook inwoners van omliggende dorpe het op 20 en 21 Oktober saamgekom om 'n landbouskou in Cradock op die skouterrein reg langs die Visrivier, aan te bied.
Hendrik Opperman, voorsitter van die Cradock-skougenootskap sê dat hierdie jaar weereens puik en goed georganiseerd was.
"Talle besoekers het deur die hekke gestroom, en stalletjiehouers is tevrede met die verkope."
Volgens Opperman is hierdie skou besig om te groei in die grootste skou in die omgewing.
Hierdie jaar het al die onderafdelings puik inskrywings gehad, en beoordelaars moes bontstaan om die wenners uit te wys. Die afdelings wat hierdie jaar deel van Cradock-landbouskou gevorm het was die boerbokafdeling, asook die persiese skaap afdeling waar die vetstert skape ook ingeskryf kon word.
Die Cradock-merinoskou is altyd 'n groot trekpleister, en daar was twee sameroepsters in beheer.
Die angora-afdeling onder leiding van Jonker Venter het ook groot aftrek gevind, terwyl Francois Rossouw die SA Vleismerino-inskrywings hanteer het. Opperman sê sonder inskrywings is 'n skou nie 'n skou nie en daarom is hulle dankbaar vir elke boer wat deelgeneem het.
Beste vag kategorie van links is Hardie van den Heever, Andrew Jordaan (sr) en Andrew Jordaan (jr).
Gracelands Ben Hur vanuit die Gert Lötter en Seuns-stalle, met Bennie Lötter in die saal.
Groot Kampioen Ooi kategorie, van links is Charl van der Merwe (BKB), Hendrik Opperman (eienaar) en Joey Adams.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’