CRADOCK NUUS - Elke jaar wanneer die eerste herfsblare aan die einde van Maart saggies begin neerdaal en die aande begin afkoel, hou Hoërskool Cradock hul matriekafskeid.
Dit gee die matriekleerders die geleentheid om die res van die jaar aan hul studies te wy, en dan is haarafsprake, mode-ontwerpersbesoeke en die groot soektog na naeltegnikusse en aandskoene afgehandel.
Hierdie jaar was elke matrikulant ‘n glinsterende ster by die geleentheid.
Met die tema, "'n Nag onder die sterre", is die spogaand op 27 Maart by Jenkins Creek buite Cradock gehou.
Die eregaste het reeds van vroegmiddag oral in Cradock vir puik fotograwe geposeer vir treffende foto’s, en die een paartjie was net so deftig en professioneel voor die kamera as die volgende.
Die matrikulante straal elke jaar soveel selfvertroue uit dat dit duidelik is dat hulle gereed is om die grootmenslewe na skool aan te durf.
Die rok- en pakparade was laatmiddag voor Huis Rocklands, waar matrikulante saam met hul metgeselle op die roete deur die tuin kon stap sodat ouers en medeleerders hul kon verkyk aand hul matrieks wat skielik soveel ouer en soveel mooier gelyk het as gewoonlik.
“Hoërskool Cradock spog met hul matrieks van 2025 wat hierdie jaar hul matriekafskeidsdans in ware styl by Jenkins Creek gevier het,” het ‘n ouer van een van die metgeselle gesê.
"Van die asemrowende omgewing tot die skitterende uitrustings, die dansvloer-oomblikke tot die gelag wat gedeel is; elke sekonde was suiwer verwondering."
CHS se leerders, toegewyde personeel en al die ouers het weer eens gehelp om hierdie geleentheid ‘n ervaring gemaak om altyd te onthou.
En die skool wens die klas van 2025 toe: “Mag die res van die jaar so helder soos die sterre wees, want julle is elkeen ‘n skitterende ster!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’