NXUBA NUUS - Inwoners van Michausdal is raadop nadat Carinus Primêre skool nooit na die skoolvakansie heropen het nie omdat die klaskamers nie veilig is nie.
Die skool, wat meer as 1 000 leerders het, is in 1970 gebou.
Tydens ’n ope gesprek met Graaff-Reinet Advertiser het ’n gemeenskapslid van Michausdal, self ’n ouer van leerders, gesê dat geen onderhoud sedert die oprigting van die skool gedoen is nie.
“Wat het dan nou deur die jare met die geld gebeur wat aan die skool gegee is vir instandhouding?” vra Petrus Plaatjies, gemeenskapsverteenwoordiger.
“Ons kinders loop in die strate, werkende ouers het nie ’n idee waar hul kinders rondlê wanneer hul nie in die skool is nie.
Die kontroletoetse is voorhande; ons kinders gaan onnodig ver agter raak in die klas.”
Krisis in onderwysstelsel
Horatio Hendricks, lid van die Oos-Kaapse parlement en DA skadu-LUR vir onderwys, sê dat die sluiting van skole weens veiligheidskwessies in Nxuba dui op ’n krisis in die Oos-Kaapse onderwysstelsel wat nie geïgnoreer mag word nie.
“Wanneer skole gedwing word om hul deure te sluit, is dit ’n ineenstorting van die basiese plig om veilige, funksionele leeromgewings te bied.
’n Volledige verslag oor die omstandighede wat tot die sluiting van hierdie skole gelei het, en dringende optrede teen enige amptenaar, insluitend die departementshoof, wat hul verantwoordelikheid om leerders en personeel te beskerm, verwaarloos het, sal geëis word.”
‘Reg op onderwys ontsê’
Vir leerders, ouers en opvoeders beteken hierdie sluitings onsekerheid, verlore onderrigtyd en groeiende angs oor veiligheid.
Kinders word hul grondwetlike reg op onderwys ontsê.
“Hierdie situasie openbaar ’n patroon van administratiewe mislukking en gebrek aan verantwoordbaarheid binne die provinsiale departement van onderwys.
Herstel geaffekteerde skole, heropen en verseker dat leerders na klaskamers kan terugkeer,” sê Hendricks.
“JA Calata Senior Sekondêre Skool, ook in die Nxuba departementele distrik, is ook gesluit, om dieselfde rede, en word tans gevandaliseer.”
Vrae oor leierskap
Hy sê probleme by verskeie skole laat vrae ontstaan oor toesig en reaktiewe leierskap binne die departement.
Die onvermoë of onwilligheid van die departementshoofde om uitdagings aan te spreek, het bygedra tot ’n verlies aan vertroue.
“Geïdentifiseerde risiko’s eis vinnige optrede.
Veilige en funksionele skole is nie ’n abstrakte beleidsdoelwit nie.
Elke kind moet ’n plek hê om te leer, ’n veilige omgewing, en fasiliteerders en ouers moet die stelsel kan vertrou om sy verpligtinge na te kom.”
’n Opvolg-ouervergadering wat vir 08:30 op 16 April geskeduleer was, is swak bygewoon. Hierdie is ’n ontwikkelende storie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’