GRAAFF-REINET NUUS - Elke persoon in Suid-Afrika lewe in 'n gees van kommer en vrees, want niemand voel eenvoudig meer veilig nie. Des te meer in die Oos-Kaap waar misdaad hoogty vier.
Op 20 Februarie het Ian Cameron, lid van die parlement en DA-woordvoerder oor polisie aangeleenthede gesê dat die misdaadstatistieke wat bekend gemaak is vir Oktober tot einde 2024, nie 'n ware beeld is van wat daagliks in ons gemeenskappe gebeur nie.
"Die misdaadstatistieke weerspieël wel die verskriklike daaglikse ervarings van Suid-Afrikaners.
Ten spyte van 'n mate van vermindering in sleutelmisdade soos moord, as jy enigiemand regoor gemeenskappe vra of hulle veiliger voel, sal hul antwoord nee wees."
Vir die laaste kwartaal van verlede jaar is die volgende syfers aangeteken om die statistiek te voltooi:
6 953 lewens verloor
Altesaam 6 953 mense is vermoor (76 daagliks), insluitend 7 666 sake van poging tot moord, 54 337 mense is aangerand (591 daagliks), insluitend 16 023 vroue en 2 164 kinders.
Daar was 11 803 slagoffers van verkragting (128 daagliks), 12 447 (135 daagliks) algemene rooftogte het voorgekom, asook 36 446 kommersiële misdade (396 daagliks).
Neem in ag dat bogemelde syfers net die aangemelde misdaadstatistieke is, en dit dui nie die hoeveelheid mense wat deur hierdie misdade benadeel is nie.
"Ten spyte van jaar-tot-jaar statistiese afnames, insluitend 'n 9,8% afname in moord, 6% afname in gewone roof, sowel as 'n 6,6% afname in aanranding, bly misdaad 'n genormaliseerde siekte in Suid-Afrika.
Verder bly die voortgesette toename in kommersiële misdade (meer as 8% oor die afgelope jaar) 'n ernstige kommer, aangesien die SAPD sukkel om afpersing en verwante misdade die hoof te bied."
SA inwoners geregtig op veiligheid
Elke inwoner van Suid-Afrika is grondwetlik daarop geregtig om in veiligheid te lewe. Daar moet voortgegaan word om te pleit dat alle Suid-Afrikaners veilig gehou sal word.
Cameron stel voor dat die polisie nader aan gemeenskappe gebring moet word. Misdaad in Suid-Afrika is kompleks en uniek aan verskeie gemeenskappe.
Vir 'n robuuste nasionale polisiëringstrategie is dit noodsaaklik dat dit vanuit situasies op die grond ingelig moet word.
Polisiëringmagte moet aan bevoegde provinsies oorgedra word vir die effektiewe verspreiding van hulpbronne.
Hy versoek ook die uitbreiding van gemeenskapspolisiëringsvennootskappe om gelokaliseerde kriminele kwessies proaktief aan te spreek, veral in hoë-misdaadprovinsies soos die Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal, Vrystaat en die Oos-Kaap.
Stelsels reeds verouderd
Die verbetering van misdaadintelligensie en forensiese vermoëns is indringend nodig. Tegnologies is stelsels reeds verouderd, aangesien forensiese laboratoriums en intelligensiestelsels nie net opgedateer moet word nie, maar vir die toekoms gebou moet word.
Daar moet gefokus word op beide die voorkoming van misdaad en arrestasies.
Misdaad word die beste beveg voordat dit plaasvind.
Inhegtenisnemings en vervolgings is van kardinale belang, maar voorkomingstrategieë moet versterk word om sosio-ekonomiese dryfvere van misdaad aan te spreek, insluitend werkloosheid, armoede en ongelykheid.
Doelgerigte en verantwoordbare polisie is van kardinale belang. Dit moet as 'n eer beskou word om SAPD-uniform te dra. Sterker meganismes is nodig vir konsekwente dissipline en aanspreeklikheid binne die SAPD.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’