KAROO NUUS - Die Oos-Kaapse Skaduminister van Maatskaplike Dienste, Kobus Botha, het onlangs in die Oos-Kaapse Wetgewer sy kommer oor dié departement en ook oor algemene maatskaplike uitdagings in die Oos-Kaap uitgespreek. Hier is 'n uittreksel uit sy toespraak:
"Op 11 Februarie 1990 is die hele wêreld se verbeelding aangegryp met die vrylating van wyle President Nelson Mandela. Op daardie dag het elkeen uitgesien na 'n Nuwe Suid-Afrika.
"Om te dien, beteken om jou heel beste vir jou land en die mense te gee. Ons regering storm egter voort van een krisis na die volgende. Die afwesigheid van verantwoordelikheid vir swak besluite is skokkend, en niemand blyk aanspreeklik te wees vir enige foute nie."
"Wanneer die mense in Suid-Afrika regdeur hierdie swak dienslewering sien, gaan daar aanspreeklikheid geëis word by die stembus. Die gemiddelde persoon in SA is armer en het baie min om te wys vir hul sogenaamde vryheid. Hoe vier jy jou vryheid as jy geen werkende riool dienste het nie, daar geen sekerheid van kragvoorsiening is nie, watervoorsiening faal, swak HOP behuising gebou word?
"Armes is oral. Hulle staan by stopstrate, op straathoeke, in klein dorpies en groot stede, en jy sal hulle ook vind by jou plaaslike ontspaningspark en supermark. Die Oos-Kaap het 67,3% volwassenes wat as brand-arm geklassifiseer kan word. Slegs Limpopo het 0,2% meer. Hierdie syfers word bevestig deur die werkloosheidsyfers in die Oos-Kaap waar 'n verstommende 45,3% werkloos is. Die Oos-Kaap het 'n bevolking van 6,9 miljoen, wat 15% van die nasionale bevolking uitmaak, maar dra slegs 7,5% by tot Suid-Afrika se begroting. In die Oos-Kaap ontvang 63,7% huishouding staatstoelaes, waar slegs 46,2% salarisse verdien.
"Jongmense lê by die huis en wag vir werk. Die swak ekonomiese groei oor die laaste 30 jaar het veroorsaak dat hierdie jongmense bykans geen hoop op werk het nie. Finansiële en administratiewe wanbestuur is aan die orde van die dag in verskeie staatsdepartemente. Korrupsie word nie uitgesluit nie en die ANC-regering is sonder enige morele waardes.
"Maatskaplike werkers is te min, en nie opgewasse vir die massiewe taak wat hul opgelê is nie, en daar is 'n reuse tekort aan maatskaplike werkers, toesighoudende maatskaplike werkers en gemeenskapsontwikkelingspraktisyns.
"Wanneer daar gekyk word na dié departement se toeganklikheid vir mense met liggaamlike gestremdhede, word daar met skok besef dat soveel as 25 kantore van die departement nie toeganklik is vir rolstoele nie.
"Die mense van die Oos-Kaap moet besef dat hulle nie nodig het om korrupsie te aanvaar nie, en hoef geensins langer met swak dienslewering tevrede te wees nie. Die beloftes wat in 1994 gemaak is moet gerealiseer word. Om 'n stabiele sameleweing te verseker moet die regering kwaliteit dienste lewer met 'n profesionele gesindheid. Dit sal meebring dat veiligheid en waardigheid vir elke inwoner 'n prioriteit word," se Botha.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’