NXUBA NUUS - Heerlike kos-aromas het al van vroeg op Vrydagaand, 24 April, oor Markstraat in Nxuba gehang waar ’n straatpartytjie die Karoo Kosfees (Karoo Food Festival) ingelei het.
Agtergrondmusiek het deurgaans vir vermaak gesorg, met optredes deur Unleaded, Magé, Junaya en Simon Shaw.
Omtrent 400 gaste het opgedaag om 30 stalletjies voor die Tuishuise en die Victoria Manor - wat bykans vol bespreek was - te ondersteun.
Deelnemers aan die suurdeeggebakdemonstrasie deur Elisma de Jager het hul eie suurdeegplantjie ontvang, terwyl Vaatjie van Toks & Tjopsfaam ’n steakaand vir die manne aangebied het.
Deelnemers kon hul vernuf toets in interaktiewe ‘Escape Rooms’ en gaste het tot laatnag die straatpartytjie geniet.
Talle restaurante het meegedoen en deurgaans tipiese karoogeregte bedien.
Op Saterdag 25 April het 700 proe-geeste op Jenkins Creek toegesak, waar die fees voortgesit is met ’n gholf, stap- en drafroete by die gholfklub.
Crown National het ’n smaakdemonstrasie aangebied waar Vaatjie vrae beantwoord het. ’n Karoo-koservaring en wynparing met Chamonix wyne was ’n treffer en heerlike bygeregte deur Barbara Weitsz van Nieu-Bethesda het Saterdagmiddag groot byval gevind.
Die aand het Cherie Antrobus van Victoria Manor die proehappies vir die wynparing gelewer.
Teen sonsak het die fees in ’n partytjie verander waar die Piesangskille vir op-en-wakker lewendige vermaak gesorg het.
’n Rustige Sondagprogram is deur 300 feesgangers geniet voordat die 2026 Karoo Kosfees ten einde geloop het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’