BURGERSDORP NUUS - Kwiltwerk het die kollig gesteel by die Dameskring se onlangse vergadering, waar mentorskap as hul missie gedeel is.
Doreen King, reeds 16 jaar 'n aktiewe lid van die Lappiesvroue van Burgersdorp, het by dié vergadering die drome en visie wat sy as laslappiewerker en kwiltmaker uitleef, gedeel.
Die Laslappievroue is ’n ywerige groep kwiltmakers wat lappies versamel en hul vreugde vind in fyn borduurwerk, laslapwerk en kwiltwerk.
Liefde vir lap
"Ek geniet dit om alles met die hand te maak," het hierdie boervrou vertel.
"'Hoekom maak ’n mens ’n kwilt?' is ’n vraag wat ek dikwels kry.
Die antwoord is eenvoudig: Jy doen dit omdat jy baie lief is vir lap!"
Naaldwerk is die oudste tekstielkuns en word reeds duisende jare gedoen.
Naaimasjiene het eers in die 19de eeu in die mark beskikbaar geraak en elektroniese en gerekenariseerde masjiene is minder as 50 jaar gelede eers bekendgestel.
"Naaldwerk is magic, maar dit gaan nie met applous gepaard nie," het King gesê.
"'n Handgemaakte artikel is jou kreatiewe stem, jou stempel, en jou nalatenskap. Wanneer jou handewerk iemand inspireer is dit die grootste kompliment, want kreatiwiteit is ’n passie.
Leef jou kreatiewe passie, en inspireer mekaar."
Uitstalling
Pragtige kwilts deur die Lappiesvroue, asook van King se borduur- en lapkuns, is in die Ondersteunersklub uitgestal en het besoekers reeds met die intrapslag betower.
Elke lappiesvrou se persoonlikheid word in hul kwiltkunswerk weerspieël.
Sommiges se kwilts is speels, sommiges vertel stories, sommiges is gevul met vrolike weerbarstige kleur in malse prettigheid, ander deel lewensboodskappe, terwyl talle absoluut perfek saamgestel en tot in die fynste besonderheid borduur en afgewerk is.
'Werkswinkel'
Gaste kon saam met Elsie Oosthuizen hul naald, gare en lap opneem om die effek van die dopamienvrystelling in die brein te beleef wanneer daar met lap geskep word.
Sy het ook haar hulpmiddels, waaronder snylemme, snyborde en snygidse, vertoon.
"Vir my spel laslap- en kwiltwerk vreugde! En wanneer ek ’n moeilke dag ervaar, gaan ek na my naaldwerkkamer en werk en skep daar tussen my vreugdelappies, en verwerk so elke bekommernis wat my pad mag kruis!" het Oosthuizen gesê.
Die dag het talle se potensiaal ontbloot en almal wat teenwoordig was het dit baie geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’