KAROO NUUS - "Kom proe die Karoo," het die plakkate adverteer en dit is presies wat gebeur het op aan die begin van Julie by die Kapoet Padstal in Willowmore.
"Kapoet Padstal het sommer besluit ons moet so 'n Langtafel hou met Sjef Karen du Plessis, eienaar van die Kitchen Queen Kookskool op George en sy is ook die eienaar van Sout van die Aarde, 'n besigheid wat sout- en kruiemengsels vervaardig en verpak. Sy kom van Graaff-Reinet, waar sy grootgeword het," vertel Louretta Lötter, mede-eienaar van die Kapoet Padstal. Haar dogter Rona Nieuwoudt is haar vennoot.
"Alvi's Drift Wynplaas se wynmaker, Riaan Marais, het met 'n hele vooraad wyn opgedaag om 'n wynproe te doen."
Willowmore het vir Pierre van der Westhuizen, die bekende tenoor van Somerset Wes, as gaskunstenaar te verwelkom.
"Hy het vir ons gesing en dit was regtig mooi. Pierre toer die hele wêreld vol, en ons was bevoorreg om hom by ons Langtafel te kon ontvang," vertel Lötter.
Die driegang Karoomaaltyd het bestaan uit Karoohappies met paptruffles en gekerfde biltong, skaapstertjies met suurlemoen en klein roosterkoekies met Karoobossiekaas en num-numkonfyt.
As voorgereg is olyf-, songedroogte tamatie- en fetatertjies bedien.
Die hoofgereg was te mooi om te eet maar te geurig om te weerstaan.
Die Karookoshoofgereg was Karoolam en Springbok met port, asook boerebone, soetwortels en braai-aartappels.
Die feesmaal is afgesluit met 'n nageregbord met malvapoeding, koeksusters en regte, egte Karoo-melktert.
Die grand finalé was die afskeidsgroet met moerkoffie met sjokolade en persvytruffles.
Sjef Karen du Plessis (links) en mede-eienaar Louretta Lötter.
Britney Cornelius (links), kelnerin by Kapoet en Rona Nieuwoudt, mede-eienaar van Kapoet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’