KOOKHUIS NUUS - Die Kookhuis-VLV se vergadering op Dinsdag 10 Februarie was ’n borrelende geleentheid.
Kari Vorster, plaaslike smaakmaker en kenner van gissingsprodukte, het die dames behoorlik aan die gis gehad na haar demonstrasie oor die basiese beginsels van fermentasie.
Liza Troskie, VLV lid, sê die vroue het meer geleer oor kefir, appelasyn, gemmerbessie (ginger bug soda) en suurkool - en die waarde daarvan vir die mens se gesondheid.
“Kefir is ’n gefermenteerde, probiotika-ryke melkdrankie met ’n jogurtagtige smaak, dikwels die ‘lewenseliksir’ genoem vir sy dermgesondheidsvoordele.
Dit word vervaardig deur koei-, bok- of skaapmelk met kefirkorrels (bakterieë/giskulture) te fermenteer en bevat baie meer voordelige bakterieë as jogurt.
Dit is oor die algemeen 95% laktosevry en 'n nutriëntdigte ‘goedvoel’ superkos,” vertel Vorster, “terwyl appelasyn ’n veelsydige natuurlike produk is wat gebruik word vir gesondheidsvoordele soos gewigsverlies, bloedsuikerregulering, verbeterde sirkulasie en velversorging.
Dit word algemeen gedrink (1 - 2 eetlepels in water) of plaaslik aangewend vir swamwerende eienskappe.
Die troebel weergawe word aanbeveel omdat dit die hoogste voedingstofwaarde het.
“Gemmerbesie (ginger bug soda) is ’n natuurlik-gefermenteerde aanvangskultuur wat gemaak word van vars gemmer, suiker en water, en word gebruik om tuisgemaakte probiotiese koeldranke te maak.
Dit is soortgelyk aan ’n suurdeeg-aanvangskultuur, waar giste en laktobakterieë op die gemmerwortel suiker verbruik en ’n vonkelende, borrelende vloeistof skep wat drankies karboniseer.”
Die nut van suurkool is ook bespreek en Vorster vertel dat dit ’n lang rakleeftyd het en ’n kenmerkende suur geur, wat albei voortspruit uit die melksuur wat gevorm word wanneer die bakterieë die suikers in die koolblare fermenteer.
Vroue wat by hierdie groep inspirerende vroue wil aansluit, waar nuwe vaardighede aangeleer kan word en waardevolle vriendskappe gesluit word, kan Liza Troskie by 082 267 5945 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’