HOFMEYR NUUS - In Hofmeyr, en by die VGK Primêr in Twinsville, en ook by plaasskole in Middelburg is daar oor die afgelope tyd, bakkievragte bokse vol boeke afgelewer.
Hofmeyr Hugs of Hope het oor die afgelope agt maande boeke ingsamel om kleuterskole en laerskole te bederf. Skenkings is ontvang vanaf Hartenbos, Stellenbosch, Oos Londen, Kroonstad, Hofmeyr, Jeffreysbaai en Gqeberha.
"Ons het die boeke uitsorteer, sodat geskikte boeke en kinderbybels na die skole kon gaan. Boeke is ook herstel waar nodig. Sommige speelskole en kleuterskole het nog nooit boeke gehad om vir kleuters stories te lees nie. Storieboeke, Bybelstorieboeke en boeke wat
leerders self kan lees is aan behoeftige skole oorhandig. By elke skool waar boeke afgelewer was, is ‘n fasiliteerder aangewys wat terugvoer aan Hugs sal gee. ‘n Aantal boeke is ook teruggehou sodat daar ook aan Hugs se pleegsorgkinders boeke gegee kon word," vertel afgetrede fasiliteerder by Hugs, Karen Lord, wat die verspreiding van dié boeke hanteer het.
"Nou kan ons weer al ons stukkende boeke uitsoek en laat herstel. Elke klas kan ook nou hul eie boekrak vol boeke pak," vertel Chalaine Fleurs van VGK Primêr in Twinsville.
Karen Lord vertel dat sy besonder beïndruk was met die netheid van klasse en die skoolterrein, "die leerders was druk besig in hul klasse, maar het dadelik ingespring om te help aflaai".
Vyf kartondose met Bybeldagboeke, Bybels en Christelike boeke wat oor jare vanaf donateurs ontvang is, is ook aan suster Abrahams van die Verenigde Gereformeerde Kerk in Twinsville, oorhandig.
"Die skenking sal aan die Vrouegroep uitgedeel word vir verspreiding aan vroue in Twinsville," het Abrahams meegedeel.
Excelsior Laerskool in Port Elizabeth skakel eersdaags oor na 'n Engelsmedium skool en Hofmeyr Hugs of Hope het heel voor in die ry gestaan toe al hulle Afrikaansmedium leerdermateriaal uitgegee is. Hofmeyr Laerskool en VGK Primêre skool in Twinsville was oorstelp van vreugde oor die ruim donasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’