GRAAFF-REINET NUUS - 'n Veiling tydens die Steynsburg Boere-unie se jaarlikse Boererally het R25 450 vir Marais Steyn-tehuis ingesamel - geld wat goed aangewend gaan word.
En hoewel die suksesvolle fondsinsameling 'n riem onder die hart is, was daar talle aktiwiteite wat die rally besonders gemaak het.
Hierdie jaar se sirkelroete van ongeveer 115 km het by Steynsburgklub begin. Die 60 spanne het kloks of antikloks gery na Bulhoekafdraai, of na Skietnekpad.
Langs die roete was daar 12 stoppunte waar 38 borge aktiwiteite aangebied het.
Hierdie jaar was daar ook 11 mans- en vrouespanne wat met groot geesdrif deelgeneem het en Laerskool Unie se juffrouens het sommer gou-gou ook drie spanne opgemaak.
Die spanne het 'n roetekaart, vraelys oor die borge en ook 'n geskenksakkie, geborg deur OVK, Karooplaas en Standard Bank, ontvang.
Die halfpadmerk was by Karoo Ridge Conservatory waar Basie Duvenage en sy span lekker wors, geborg deur CJK-slaghuis, gebraai het vir wordsbroodjies.
Terwyl die musiek speel en party op bale ontspan, het ander nog deelgeneem aan Agri Oos-Kaap se uitdagende aktiwiteite.
Sumari Stadler en haar span het na die prysuitdeling heerlike biefstuk en bykosse bedien te midde van die vrolike atmosfeer
Uitdagings
Van die talle uitdagings was onder andere by die Kimjer-motorsstalletjie waar deelnemers in trurat moes ry met 'n trekker en wa en by die Agricostalletjie het deelnemers vinnige vingers nodig gehad om boute en moere vas te draai.
By Agri Bearings moes die spanne verskillende groottes waaierbande gooi na 'n paal en by OVK is daar visgevang met 'n ball valve. Gras en veldbossies is by Grootfontein Landboukollege se stal uitgeken.
In 2025 doen ons dit weer
Die boere-unie is dankbaar teenoor elke grondeienaar wat bereid was om die borge en spanne te ontvang en 'n allemintige 72 borge het geld of pryse geskenk.
Nog 'n uithaler rally word vir 14 November volgende jaar beplan, wanneer die vyfde Rally gehou word.
Laerskool Unie se juffrouens, Sharon Momberg, Caitlyn Lord, Sumari Stadler en Rikki du Plessis het ook hul boerderykennis gaan toets.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’