GRAAFF-REINET NUUS - Wentzel Christoffel Lombard (61) van Cradock, wat op 27 September in die streekhof in Cradock skuldig bevind is daaraan dat hy meer as R1 miljoen verduister het, sal op 9 Januarie gevonnis word.
Lombard het op 2 Desember in die streekhof in Cradock verskyn vir vonnisoplegging, maar die saak is uitgestel tot volgende jaar.
Lombard het 105 droë koeie, wat volgens hom as dragtig gesertifiseer was, verkoop aan 'n boer van Bothaville, Albertus Ebenhaezer Steenkamp.
Steenkamp het in totaal 191 "dragtige" koeie aangekoop.
Volgens hofstukke het Steenkamp verklaar dat hy Lombard tydens 'n veiling op 20 Julie 2017 ontmoet het waar hulle nie suksesvol was met die aankoop van beeste nie.
By die geleentheid het Lombard hom meegedeel dat hy wel dragtige koeie beskikbaar het. Hierna het Steenkamp na Cradock gereis, maar die koeie was nie almal beskikbaar vir besigtiging nie.
Steenkamp het vervolgens 'n lening aangegaan om die koeie te koop en het die beeste in ontvangs geneem. Hy het egter binne weke vasgestel dat hy om die bos gelei is en het 'n massiewe finansiële terugslag beleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’