ABERDEEN NUUS - Aberdeen-boerevereniging, onder voorsitterskap van Hannes Janse van Rensburg, het op Woensdag 22 Maart by die Aberdeen-klub vergader.
BKB het goedgunstiglik die dag geborg en Zenobia de Jager Erasmus, takbestuurder van BKB-Aberdeen, het gesorg dat alles glad verloop.
Twee van BKB se bestuurders, Isaak Staats en Lindsay Humphreys, was die gassprekers.
Van Rensburg het die vergadering geopen met 'n gepaste gewyde vergelyking: enkel uitgesonderd is die onderskeie rou bestanddele van 'n beskuitresep onsmaaklik, maar alles reg saamgevoeg en gebak, maak daardie bestanddele die heerlikste karringmelkbeskuit – soortgelyk aan gebeure in die lewe en natuurlik ook die onderskeie fasette van boerdery.
Punte op die agenda het ingesluit gemeenskapsveiligheid, veediefstalle en die noodsaaklikheid vir behoorlike aanmelding daarvan, waterregte en grondbewaring. Terugvoer is gegee oor vordering met reëlings vir die kuddekompetisie wat deur die boerevereniging aangebied word op
21 Junie. Die jaarlikse Boere Rally is ook reeds geskeduleer vir 18 Oktober en beloof om weereens 'n hoogtepunt op die kalender te wees.
BKB se algemene bestuurder van wol en sybokhaar, Isaak Staats, het die boere toegespreek oor volhoubaarheid. Lindsay Humphreys, BKB se volhoubaar-heidsbestuurder van wol en sybokhaar, het oor die RMS/RWS (verantwoordelike sybokhaar/wol standaarde) en BKB Planet Nxt-programme gepraat.
Internasionale landboustandaarde verg toenemend van die hele verskaffingsnetwerk om op verantwoordelike en eties, humanitêre wyse, produkte te produseer en te verskaf. Dit sluit in dat boere in hulle boerdery op aspekte soos biodiversiteit, grondbewaring en veldherstel ag behoort te slaan, asook regeneratiewe boerderypraktyke sal volg.
Die dag is afgesluit met 'n welkome weglê-ete.
Dis nie aldag dat boere so stil sit nie, maar die vergadering is goed op dreef. Foto: Alex Lombaard
Vergaderings maak ‘n boer honger.Foto: Saskia van Rooyen
BKB Aberdeen-takbestuurder, Zenobia de Jager Foto: Saskia van Rooyen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’