Video
GRAAFF-REINET NUUS - Op die plaas Rietpoort in die Murraysburgdistrik het dit lank laas gereën.
"Dis droog in die distrik. Talle boere in die aangrensende distrikte, Aberdeen en Graaff-Reinet, bid ook dat dit spoedig sal reën," sê Carel van Heerden, die bestuurder van Rietpoort.
"Vyftig persent van ons skape moet daagliks gevoer word. Ons moes ons veldooie se lammers vroeg speen.
"Wanneer kos skaars raak, soek jy moeilikheid as jy jou lammerooie laat swaar kry. Ons voer nou al ons lammers tuis, in voerkrale.
"Op die oomblik loop daar ook skaap op die lande, waarvoor ons baie dankbaar is. Die eienaar van Rietpoort het ook ‘n plaas, Lapfontein, in die Richmonddistrik, waar hulle twee maande terug gelukkig 35mm reën gehad het. Die skaap wat daar loop, is in goeie kondisie," sê Van Heerden.
“Ons voer ook nou 70% van die angorabokke en 80% van die boerdery se beeste loop in die fluitjiesriete in die droë rivierloop, wat ‘n wonderlike voedingsbron in tye van droogte is.”
Hy bestuur dié plase al dertien jaar lank en glo as jy na jou diere kyk, kyk jou diere na jou. "Dit is 'n wenresep vir elke boerdery," verseker hy.
VIDEO: Droogte op die plaas Rietpoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’