GRAAFF-REINET NUUS - Die boervrou van Aliwal-Noord, wat glo 'n komplot gesmee het om haar man te laat vermoor, is Vrydag 17 Januarie onder streng voorwaardes borgtog van R2 000 toegestaan.
Anelle de Bruin (46) se inhegtenisneming het landwyd opspraak verwek omdat sy glo 'n polisie-informant gevra het om haar man, Johan (56), en enige persoon wat sou probeer keer, te vermoor en dit soos 'n plaasaanval te laat lyk.
Die "plaasaanval" was beplan vir Woensdagaand, 8 Januarie, maar in stede daarvan dat Johan die tydelike met die ewige verwissel het, het die polisie die aand opgedaag en De Bruin voor haar oënskynlik oorblufte man gearresteer.
Johan, met wie sy reeds 15 jaar getroud is, kon glo geen rede vir sy spreekwoordelike doodsvonnis gee nie, want, volgens hom, is daar geen huweliksprobleme nie.
De Bruin ontken dit egter en het aan Rapport gesê haar huwelik is "stormagtig". Sy het ook aan Rapport gesê dat die polisie-informant haar uitgelok het om die moordplan te smee.
Sy is na haar arres van sameswering om moord te pleeg aangekla en moet weer op
5 Maart in die hof verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’