CRADOCK NUUS - Die gemeenskap van Cradock is ontsteld nadat dit Vrydag 27 September bekend geword het dat 'n welbekende boer van Cradock skuldig bevind is aan die verkoop van droë koeie nadat hy valslik aan die koper gesê het die koeie is dragtig.
Wentzel Christoffel Lombard (61) het vroeër aktief op die plaas Waterval buite Cradock geboer en is in die streekhof in Cradock skuldig bevind dat hy meer as R1 miljoen verduister het, deur 105 droë koeie, wat volgens hom as dragtig gesertifiseer was, te verkoop aan 'n boer van Bothaville, Albertus Ebenhaezer Steenkamp. Steenkamp het in totaal 191 "dragtige" koeie aangekoop.
Volgens hofstukke het Steenkamp verklaar dat hy Lombard tydens 'n veiling op 20 Julie 2017 ontmoet het waar hulle nie suksesvol was met die aankoop van beeste nie. By die geleentheid het Lombard hom meegedeel dat hy wel dragtige koeie beskikbaar het. Hierna het Steenkamp na Cradock gereis, maar die koeie was nie almal beskikbaar vir besigtiging nie.
Steenkamp het vervolgens 'n lening aangegaan om die koeie te koop en het die beeste in ontvangs geneem. Hy het egter binne weke vasgestel dat hy om die bos gelei is, en het 'n massiewe finansiële terugslag beleef.
Lombard sal op 2 Desember in die streekhof in Cradock gevonnis word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’