GRAAFF-REINET NUUS - Réan Clasen (33), 'n gewilde deelnemer aan Boer soek 'n vrou in 2018 en sy droomvrou, Kristen Opperman (27) het Saterdag 24 November by dieselfde plek getrou waar hulle 23 maande gelede ontmoet het.
Réan is 'n wingerd- en okkerneutboer in die Groblershoopdistrik en Kristen 'n plaasnooi vanaf die pragplaas, Hazeldene in die Cradockdistrik, waar haar pa en broer met vee en gewasse boer.
Kristen is 'n dragtigheidsondersoeker van beroep en 'n groot diereliefhebber. Sy het 'n besondere voorliefde vir perde en is reeds van kleins af 'n vaardige ruiter.
Die twee het mekaar in Desember 2022 by 'n troue van vriende op Blomfontein net buite Cradock raakgeloop en dadelik sterre in hul oë gehad.
Hulle is voor 'n volgepakte kerk deur ds Schalk van der Merwe van Groblershoop in die eg verbind.
Donkerrooi rose, asters, sharonetproteas, fynbos en wit rose het die kerk en saal gevul.
Die bruid, in 'n spierwit styfpassende trourok wat uitklok na onder, se lang sleep was met kant borduur.
Die bruidsmeisies was in maroon en albei ma's was in donkerblou.
Die swaargelaaide skemerkelktafels het gekreun onder vingerhappies en die gaste het in die tuin gekuier terwyl die foto's geneem word.
Die spysenier, Celest Lombard, en haar span het ook die voortreflike formele aandete bedien.
Die egpaar is reeds terug van hul wittebrood op Mauritius en sal hul nou in die Groblershoopdistrik vestig waar beide by die boerdery betrokke sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’