GRAAFF-REINET NUUS - Die ATKV-takke van Graaff-Reinet en Hoër Volkskool, in samewerking met die Landsdiensleerders, het Dinsdagmiddag, 2 September, die inwoners van Huis Van der Graaff op 'n lentedag-bederfie trakteer.
Tydens 'n vrolike, gesellige Bingo-sessie het hulle tyd, aandag en warmte met die inwoners gedeel.
Vir die inwoners was die prettige dag gevul nie net met die afwagting en plesier van 'n Bingo-oorwinning nie, maar ook met stories en geselskap.
Wat kan nou lekkerder wees as 'n vrolike kuier saam met lewenslustige en uitbundige tieners wat elke oomblik van die lewe ten volle geniet?
By Hoër Volkskool is diensbaarheid en saamwees waardevolle lesse – en dié Bingo-kuier by Huis van der Graaff was 'n perfekte voorbeeld.
Die leerders sê hulle gaan nog lank gesels oor waardevolle lewenslesse wat hulle kon leer, terwyl die inwoners van Huis van der Graaff wens elke dag kon soveel vreugde en lewenslustigheid hê.
“Ons Bingo-middae het nog nooit so vinnig verbygevlieg nie,” vertel hulle.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’