ABERDEEN NUUS - In De Vosstraat, een van die oudste strate in Lotusville in Aberdeen, in 'n tweevertrek skakelhuis met 'n asbesdak, woon 'n jongman wat die vaardighede wat hy homself aangeleer het, nie net aanwend om kos op sy tafel te sit nie, maar ook om waardigheid aan ander te verleen.
Met geen formele opleiding of kwalifikasies nie, het Renaldo Williams, 23 jaar oud, homself bekwaam en bewys as plaaslike barbier.
"Ek het al in Graad 4 begin om vriende se hare te skeer en so deur die jare het ek maar YouTube's gekyk om tegnieke aan te leer en op hoogte te bly met wat mode is," gesels die innemende Williams. In 2017 het 'n vriend, Diwano Davids (22), Williams se talent raakgesien en so begeesterd geraak dat Williams hom opsluit ook díe vaardigheid moes help ontwikkel. Nou werk die twee al vir meer as 'n jaar en half voltyds saam en sedert Januarie vanjaar het hulle besluit om vanaf Williams se huurhuis hul besigheid te bedryf.
Met geen fondse vir bemarking, het die twee koppe bymekaar gesit en besluit om twee koppe met een haal te skeer: deels as bemarkingsveldtog en deels as teruggee aan die gemeenskap, het hulle hul dienste gratis by twee plaaslike skole aangebied. Vanjaar het hulle die Madiba 67-minute gebruik om by Luxolo Intermediate in Thembalesizwe vir twee dae lank gratis skoliere se hare te kap. Williams en Davids wys trots hul skriftelike bedanking van die skoolhoof.
"Om te sien wat dit beteken vir die kinders wat nie 'n haarsny kan bekostig nie, het ons gemotiveer om dieselfde by nog 'n skool te doen," verduidelik Williams hulle besoek aan Kamdebo Primêr. Davids en Williams het vir vier dae skoliere se hare by díe skool gekap.
Met hul teikenmark mense wat dit ook nie breed het nie, verduidelik Williams dat dit maar kopkrap verg om al die gate toe te stop. "Elke maand moet die eerste klomp koppe wat geskeer word, se R30'e gaan om my huishuur vir die volgende maand bymekaar te maak en dan natuurlik geld vir elektrisiteit, want ons skeer met elektriese skeermesse en elektrisiteit is duur."
Williams en sy suster deel die woning waar hulle die een vertrek as hul eie gebruik en die ander vertrek vir sy barbierwerk. Hy sê as hy homself veroorloof om te droom, hy 'n aparte, ingerigte werkplek wil hê met baie meer kliënte en professionele produkte. Davids sê hy wil net graag goed vir sy kind kan sorg. As hy dit kan doen deur 'n suksesvolle familiebarbier te wees, sal sy beker oorloop.
Gewis slyt hulle hul lewens in die woorde van Christo Frazenburg, skoolhoof van Luxolo: "... and most importantly, changing lives one cut at a time".
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’