NASIONALE NUUS - Terwyl Suid-Afrika gebuk gaan onder skrikwekkende statistieke vir vermiste persone, is daar tog 'n liggie in die tonnel. Die SAPD het op 5 Mei bekendgemaak dat sedert 2020 tot op datum, altesaam 17 968 vermiste persone in die land met hul geliefdes herenig is.
Volgens SAPD mediaverteenwoordiger, brigadier Athlenda Mathe, sluit die syfer volwassenes en kinders in wat by polisiekantore regoor die land as vermis aangemeld is.
Die aantal volwassenes wat deur intelligensie en noukeurige speurwerk eventueel gevind is, beloop altesaam 15 005.
Altesaam 2 963 van die meer as 17 000 was kinders onder 18 jaar oud, waaronder 1 919 vroulik en 967 manlik was.SAPD-duikers het 'n bykomende 3 099 liggame van mense wat verdrink het, uit waterbronne soos riviere en damme gehaal.
Die spanne het ook gehelp met reddingspogings van 2 577 mense vanuit waterbronne.
Meld vermistes aan!
Die SAPD herinner almal dat daar geen wagtydperk is om 'n geliefde as vermis aan te meld nie.
Enigiemand wat vermoed dat 'n geliefde vermis geraak het, word aangeraai om dit onmiddellik by hul naaste polisiestasie aan te meld.
Die jongste foto van die vermiste persoon, tesame met inligting oor wat hulle gedra het of waar hulle laas gesien is, moet met die aanmelding verskaf word.
Die SAPD stel dan 'n multidissiplinêre span aan om die sake te hanteer.
Hierdie taakspanne sluit gesoute speurders, misdaad- en teenintelligensiebeamptes, die DPCI (HAWKS), K9 soek-en-redding, die kubermisdaadeenheid en, waar nodig, die polisie se duikeenheid in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’