JANSENVILLE NUUS - Die gemeenskap van Jansenville in die Oos-Kaap rou oor die dood van inwoner en paramedikus Piet Tieman (53), wat Sondag 18 Mei in die dorp doodgeskiet is.
Behalwe vir sy voltydse beroep as ambulansman, het Tieman ook 'n begrafnisondernemersbesigheid en 'n gastehuis bedryf.
Hy was ook 'n uiters betroubare boukontrakteur in die gemeenskap.
Volgens die polisie is Tieman op die hoek van Brug- en Hoofstraat in Jansenville dood aangetref nadat hy in die bolyf geskiet is.
Volgens inligting het Tieman pas sy dagskof klaargemaak en was nog in sy EMS-uniform toe hy omstreeks 19:40 winkel toe is.
Geen verdere omstandighede rondom sy dood is bekend nie.
Die polisie het onmiddellik 'n soektog na twee verdagtes van stapel gestuur.
Skok en meegevoel
Die LUR van gesondheid in die Oos-Kaap, Ntandokazi Capa, het haar skok ná Tieman se dood uitgespreek en haar innige meegevoel aan kollegas, vriende en familie gestuur.
Sy het ook 'n beroep op wetstoepassers gedoen om geen steen onaangeroer te laat in die ondersoek na die moord nie.
Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement, het gesê sedert 2015 het nooddienste in die Oos-Kaap 'n reeks aanvalle ervaar; in sommige gevalle personeellede wat beroof is terwyl hulle aan diens was.
"Hierdie omstandighede plaas nog meer druk op personeellede wat reeds onder erge spanning hul dagtaak verrig."
Gemeenskap versper pad
Gister, Dinsdag 20 Mei, is motoriste gedwing om alternatiewe roetes te gebruik toe inwoners die R75 na Jansenville met 'n vragmotor versper het in protes teen die moord.
Polisiewoordvoerder Majola Nkohli sê betogers het die vragmotorsleutels gevat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’