MIDDELBURG NUUS - Inwoners van Middelburg en omgewing het met groot skok verneem van die skielike heengaan gister, 8 Oktober, van die geliefde en bekende boervrou, Trish Southey, van Manor Holme digby Schoombee.
Trish se man is 'n bekende Merino stoetboer en vorige Merino SA-president, Julian Southey.
Julian is onlangs in St George's Hospitaal in Gqeberha met ernstige longontsteking opgeneem en is op suurstof geplaas. Trish het Dinsdag ook nie lekker gevoel nie en is kort daarna oorlede aan 'n hartaanval.
Trish was welbekend as Christen-berader, gebedsvennoot, skilder, botaniese kenner van kruie en veldplante, asook van wol- en bokhaarprodukte en verwerking.
Sy het 'n reuse verskil gemaak in haar onmiddellike omgewing, en ook die groter gemeenskap van Middelburg, Steynsburg en Hofmeyr.
Sy sal veral onthou word vir haar sagte, liefdevolle benadering in alle situasies en haar absolute onkreukbare geloof.
Merino SA het op Facebook hul medelye met die familie uitgespreek en sê sy sal onthou word vir haar innemende geaardheid en vir die manier wat sy vir Julian ondersteun het, ook tydens sy presidentstermyn by Merino SA.
"Sy was 'n wonderlike moeder vir haar kinders en kleinkinders en 'n besonderse Christen vrou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’