GRAAFF-REINET NUUS - Talle beesboere het onlangs, na 'n staakboerdery-veiling in die Oos-Kaap, weereens tot die skokkende besef gekom dat beespryse tans laer is as in 2011.
Koeie met kalwers het verkoop vanaf 'n skrale R5 500 tot R6 500, terwyl stoetbulle teen die hoogste bod vir tussen R11 000 tot R15 000 verkoop is.
'n Verskeidenheid rasse is aangebied op die veiling, maar die pryse was deurgaans kommerwekkend laag.
Rooivleis Aksie Groep
Op sosiale media is die Rooivleis Aksie Groep, wat deur dr. JJ de Villiers bedryf word, een van die besigste groepe, met 'n ledetal van 917 beesboere van regoor Suid-Afrika. Elke beesboer in Suid-Afrika behoort in te skakel by hierdie insiggewende groep, waar raad en inligting deurgegee word en verskillende standpunte op 'n daaglikse basis gedeel word.
Eksteen deel inligting
Lochner Eksteen, aktiewe beesboer, het tydens 'n gesprek met die Graaff-Reinet Advertiser die volgende inligting, wat op alle beesboere van toepassing is, en nie beesras-spesifiek is nie, gedeel.
"Deesdae word daar geboer met uiterste weerstoestande en 'n drukkende ekonomie en dit is belangriker om met die regte tipe dier te boer.
Wat hou die produsent op die plaas?
1. Vrugbaarheid. Niks groei swakker as 'n ongebore kalf nie.
2. Veldaangepas (onderhoud). Wanneer jy met 'n aangepaste dier boer is jou direkte kostes laer.
3. Gehardheid. Beeste wat siekte-weerstan-dig is, vaar beter.
4. Koei tot kalf speenverhouding
5. Belading. Kilogram vleis geproduseer per hektaar.
"Elke klein uitgawe raak gou 'n reuse-winsdief. Die tempo waarteen meetbare uitgawes opgaan hou geensins verband met dié van die vleisprys nie. Dit forseer die produsent om die volgende vraag te vra: Boer ek met produserende oorlewers of boer ek myself van die plaas af?
Maksimum winste
"Hierdie tipe dier pas nou ongelukkig nie in by jou groot voerkrale sisteem nie. Weens die feit dat die volwasse gewig laer is en diere vinniger vet aansit. Maar dit is die dier wat jou op die plaas hou, want teen die laagste moontlike uitgawes lewer hierdie diere maksimum winste. Die tipe dier pas nie altyd fenotipies binne in die prentjie wat ons in ons kop het nie. Maar indien die konsep van winsgewendheid jou ego oorwin het, sal jy moet leer dat jy jou prentjie moet verander."
Die wat egter hul eie diere slaggereed afrond, verkies hierdie tipe dier. Verlaagde risiko, laer voerkoste en vinniger markgereed, minder arbeid en slytasie.
"Wanneer jy self afrond is jou enigste onbeheerbare faktor die slagprys en gradering. Dit is broodnodig dat ons 'n ander graderingstelsel in Suid-Afrika moet kry. Die uitvoermark is baie gesteld op kwaliteit. Swak eetervarings kan boere baie markaandeel laat verloor. Die verbruiker soek meer gewaarborgde gehalte, waarvoor die huidige gradering nie voorsiening maak nie.
"Die merkbare tendens in RSA is dat 'ligter raam' karkasse met goeie vetverspreiding al hoe meer gewild raak.
"Dit maak sin, want die ekonomie druk die verbruiker net so hard en die verbruiker sal eerder 'n kleiner, dikker steak met lekker vetjie op verkies, bo 'n dun gesnyde groot steak van dieselfde prys."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’