GRAAFF-REINET NUUS - By Huis Aalwynhof, 'n ACVV-tehuis vir ouer persone in Aberdeen, het een inwoner, Basil Joubert, op Sondag 2 Februarie mede-inwoners bederf met 'n fees van fyn eetgoedjies en samesyn.
Joubert het Sondag sy negentigste verjaarsdag gevier en het enkele spesiale gaste asook sy mede-inwoners genooi om aan te sit vir 'n koppie tee en 'n wye verskeidenheid happies.
Spesiale gaste, Dickie en Colleen Ogilvie, het gesorg vir 'n sjokolade verjaarsdagkoek en Joubert het nie op hom laat wag om die kersies dood te blaas nie.
Op 90 is Joubert se sin vir humor heersend in sy kommunikasie. "Aangename kennis. I am Dennis ... " het hy Graaff-Reinet Advertiser ernstig, formeel en hoflik gegroet en na 'n nét lang genoeg stilte om 'n mens te laat wonder oor die stand van sy kognitiewe vermoëns, met 'n glimps van 'n glimlag, maar 'n wakker vonkel in die oog, bygevoeg: "... and I am a menace!"
Karin van den Heever, kombuismatrone en bestuursverteenwoordiger vir die geleentheid, het al die gaste verwelkom en Joubert hartlik gelukgewens met die besondere mylpaal.
Met die formaliteite afgehandel, het almal teenwoordig lustig weggelê aan die smaaklike eetgoed.
Op navraag het Joubert geantwoord dat Aberdeen die laaste 20 jaar sy tuiste is en dat hy en sy oorlede gade destyds 'n gastehuis bedryf het.
Een van sy eregaste het bevestig die gastehuis, Tohito, was wyd en syd bekend vir die uitsonderlike tuin.
Joubert se flink verduideliking van die gastehuis se naam het gaste laat skater: "Ja, dis eintlik TOt HIer TOe ... en nie 'n donner verder nie."
Joubert is in Februarie 2024 voor sy huis aangerand en beseer toe hy teruggekeer het van 'n besoek aan die winkel. S
y kommentaar op die insident: "Jy weet, my naam is nou Klipkop. Ek is met 'n klip op die kop geslaan; die klip het in twee gebreek en hier sit ek nog."
Sy aanvallers is in Junie verlede jaar tot 15 jaar direkte gevangenisstraf elk gevonnis.
Vir Joubert is hierdie mylpaal net aansporing vir die volgende groot verjaars-dag: "As jy weer kyk, sien ek julle vir my 100ste! Dis sommer een van die dae!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’